Voetspoorfees díe naweek

Thabazimbi – Die NG Kerk Thabazimbi se jaarlikse Voetspoorfees by die skougronde vind plaas op Saterdag 1 September. Hierdie is ‘n feestelike byeenkoms waar oud en jonk kan saam kuier in ‘n gesellige, vriendelike atmosfeer en die lente behoorlik inwy.
Een van die organiseerders, Anène Akermann, sê dat hulle juis daarop konsentreer om kuier-ruimtes te skep. “Hier, onder die vlaggies, kan gelag, geëet en gekuier word na hartelus.”
Die oggend skop af met ‘n fietswedren wat plaasvind om 07:00 by die eksklusiewe natuurreservaat; Ben Alberts. Groot pryse, onder meer ‘n tablet, Spur eetbewyse, sport sakke en speelgoed vir die kinders, kan gewen word.
Feesgangers kan hierdie jaar uitsien na ‘n behoorlike mark-gevoel met handsakke, kuns, handwerk, skilderye, negosie, boeke, voetbederf, Dadda se samoesas, donuts, lekkergoed, troeteldiere, koeldranke, mocktails en ‘n kwekery.
Daar sal heerlike koeke, terte, poedings en ander gebak beskikbaar wees by die tuisnywerheid. Die restaurant area gaan in almal se smaak voorsien en bekostigbare pryse bied, van gourmet koffie, pannekoek, kerrie-maalvleis vetkoek, kerrie en rys, worsbroodjies, russian footlongs, pap en kaiings, steak kerrie en selfs afval met stampmielies. By die vleisverkope gaan spesiale vleissnitte gebied word teen pryse laer as by supermarkte. Rump en T-been snitte gaan beskikbaar wees teen die laagste prys in die dorp!
Die kindervermaak gaan uit die boonste rakke wees en hier kan kinders sorgvry en uitbundig speel in ‘n veilige omgewing. Verskeie speletjies en kompetisies soos skyfskiet, paintball, tombola, ‘n inkleurkompetisie, trampoliene, springkastele, bigfoot en treintjie ritte asook pret met waterballonne gaan hulle besig hou. Kinders kan ook uitsien na aanloklike pryse! Die verhoogprogram sal verseker dat ons die room van ons plaaslike talent in aksie kan sien.
Die veiling beloof om hierdie jaar interessante items op te lewer, van poue en volstruiskuikens tot wegbreeknaweke.
Vanjaar wil ons kyk hoeveel motorfietse ons bymekaar kan kry! Kom parkeer gerus jou motorfiets, ‘adventure bike’ of ‘off-road’ motorfiets van 09:00 tot 12:00 en kom kuier motorfiets-sake.
Die Voetspoorfees begin om 09:00 en gaan ‘n heerlike bosveldkuier wees wat jy nie moet misloop nie. Soos dominee JZ de Jager sê: “Dis ons kans om voetspore in die mense van ons gemeenskap en omgewing se harte te los. Maak seker jy kom los ook joune!”
