Schools & sport

Superrugby Semi-Finale 2017

4 August 2017 · Platinum Bushvelder

Superrugby Semi-Finale 2017

Crusaders vs Chiefs
Die Saders klop die Chiefs in Christchurch 27-13 in ‘n klipharde Kiwi derby. Die super verdediging van die Crusaders was deurslaggewend ou grote. Hulle moes oor die honderd duikslae uitvoer en het net sowat 30 persent balbesit gehad. Die Saders het die Super trofee al sewe keer opgelig en was in 2008 die laaste keer aan die wenkant. Die Saders se coach, Scott Robinson, is egter daarvan oortuig dat sy span weer die beker gaan lig.

Maklik gaan dit nie wees nie maat, die Saders moet Jo’burg toe reis om ‘n Kiwi-vreter met die naam Leeu in die oë te kom kyk. En lekker gaan dit nie wees nie, loop vra maar die 2016 Kampioene, hulle sal jou meer kan vertel van die riller waarby hulle betrokke was in hulle semi in Leeuwêreld. Africa is a tough country, mate! 

Lions vs Hurricanes
Voor dertig duisend toeskouers op Ellispark het die Leeus veggees en durf getoon en slaag daarin om die 2016 Super Kampioenspan, die Hurricanes 44-29 te klop. Maklik was dit nie ou grote, inteendeel, rustyd was die tuisspan met 20-3 agter op die telbord.

Coach Akkers het sy troepe kalm toegespreek en nederig gevra dat hulle net vyf drieë hoef te druk, dan is hulle in die finaal. Jaco Kriel en sy trop Leeus luister en in een van die beste comebacks in die geskiedenis van Superreeks kom hulle terug in die tweede helfte... en res is geskiedenis.

Die geelkaart wat Beauden Barrett in die 55ste minuut verower het, was die draai van die gety, want die Leeus teken sewentien punte in die tien minute aan. Die Leeus speel nou vir die tweede agtereenvolgende jaar in die eindstryd en het die groot voordeel van ‘n tuiswedstryd.

Dít gaan voor sowat 62 000 toeskouers plaasvind want die kaartjies is al Maandag voor etenstyd uitverkoop. Die Crusaders wemel van All Black spelers en gaan ‘n groot toets wees vir die Leeus.

mosioneel gaan dit ook ‘n groot dag wees vir Akker want dit is sy laaste game as hoof coach van die Leeus. 

Gaan groot Leeus!

Nag ou grote…

Curriebeker 2017

Goue Leeus vs Griekwas
In ‘n riller op Ellispark slaag die Goue Leeus daarin om die Griekwas met 48-43 te troef. Die game was tot op die einde in die weegskaal maar verbete verdediging deur die tuisspan het wa deur die drif getrek. Die Goue Leeus speel volgende teen die Blou Bulle op Fort Loftus. Die Griekwas moet Durban toe reis om teen die Haaie uit te draf.

Haaie vs Pumas
In die Haaitenk moes Haai se kind hard werk vir hulle 29-0 oorwinning oor die Pumas. Dit was regtig maar ‘n goor game om te kyk maar die Haaie het darem ‘n waardevolle bonuspunt verdien. Die Haaie speel volgende teen die Griekwas tuis in die Haaitenk met die Pumas wat Kaapstad toe reis om teen die WP uit te draf.

Cheetahs vs WP
Die Blikore het voor ‘n klein skare in Bloemfontein die WP 30-10 geklop en gewys hulle gaan nie maklik van hul 2016 titel afstand doen nie. Die Sewes Blitsbok, Rosko Specman, het geskitter vir die Cheetahs op vleuel en druk ook ‘n puik drie. Die Cheetahs het ‘n loslootjie in die volgende ronde met die WP wat in Kaapstad teen die Pumas gaan uitdraf.

Nag ou grote…