Community

Northam groet Oom Hannes Olckers

Northam groet Oom Hannes Olckers

Northam – Dit is met groot hartseer dat die Northam gemeenskap afskeid neem van Oom Hannes Olckers. Afgetrede ingenieur, gesoute wildsboer, Pa en Oupa was maar net ‘n paar van die hoede wat Oom Hannes in sy lewe gedra het.

Almal wie gelukkig genoeg was om Oom Olckers te ken sal kan getuig dat  hy ‘n baie reguit, tot die punt tipe man was. Daar was nooit tyd vir doekies omdraai nie, maar hulle sal ook kan getuig dat hy ‘n enorme hart gehad het en altyd sy moue sou oprol vir sy medemens.

Oom Olckers se vrou, Isabel, het aan die Platinum Bushvelder koerant vertel: “Hy het my altyd vreeslik lekker laat lag en het ‘n goeie sin vir humor gehad. Ek sal hom onthou vir sy lewenslus, deursettingsvermoë, goeie hart en sy liefde vir diere.” Sy het met ‘n glimlag bygevoeg: “Ons mag nie eens Doom vir die insekte gebruik het op die plaas nie! Hy het glad nie daaraan geglo om selfs ‘n spinnekop dood te maak nie.”

Oom Hannes het gereeld luislange gevang en verwyder vanaf ongewenste plekke net om hulle dan op sy plaas weer vry te laat – geen bang haar op sy kop nie!

Ander mense sal kan getuig van sy besigheidsvernuf en natuurlike leierseienskappe: “Vir my was hy een van die slimste mense wat ek geken het, veral as ingenieur,”  vertel Johan Olckers, sy seun. Oom Olckers het in 1979 sy eie ingenieursfirma begin as ‘n klein familie besigheid, maar was so suksesvol dat dit selfs in die buiteland bekend was. Hannes het o.a. gewerk in China, Viëtnam, Malie en Tanzanië. 

In 2006 het Hannes en sy vrou bosveld toe verhuis om ‘n fabriek te open… en nes geskrop op ‘n wildsplaas!

‘n Samekoms vir Oom Hannes se vriende en familie was gehou op 1 September 2017 op lentedag by  Mawala. Alhoewel dit hartseer is om afskeid te neem, het Isabel vertel dat lentedag gepas sal wees: “Ek het gedink dit is gepas, want dit is die begin van ‘n nuwe seisoen, lente, om finaal te kan groet.”
Bosveld groet jou Hannes, jy gaan gemis word…
 

Oom Hannes Olckers is op 23 Augustus op die ouderdom van 79 oorlede.

 

More local news