Rugby kampioenskappe 2017

Nieu-Seeland vs Australië
In Dunedin speel die Aussies goeie ruggas en veroorsaak amper ‘n natuurramp. Drie minute voor die eindfluitjie moet blaas, loop die Aussies voor nadat Kurtley Beale onder die All Black pale oor val vir ‘n puik drie. Die doelskop is oor en die Wallabies loop 29-28 voor. Met sekondes oor, bemeester die All Black cappie, Kieran Read die bal, en na ‘n skitterbeweging druk Beauden Barret die wendrie en slaag ook met die doelskop om die All Blacks 35-29 as oorwinnaars van die veld te stap. Barret het 20 van die Kiwi’s se punte aangeteken.
Dit was een van die mees aanskoulikste toetse in baie jare en die Aussies kan trots voel met ‘n sterk comeback van die vorige Saterdag se groot neerlaag.
Argentinië vs Suid Afrika
Die Bokke wen 41-23 in Salta en bevind hulself in die ongewone posisie bo-aan die punte tabel ou groene. Maar die wen moet nie valse hoop skep nie, want die Aussies is met mening terug en die All Blacks is nie verniet die nommer een span op die planeet nie.
Die Bokke speel baie beter ruggas as in 2016 maar die eerste groot toets is teen die Aussies op 9 September in Perth. Goeie nuus is dat Handrè Pollard ook weer in die Bokgroep opgeneem is.
Nag ou groene…
Curriebeker 2017
Pumas vs Bulle
Die Blou Bulle word weereens geboelie en verloor in Nelpsruit 51-15... en dit nogal met John Mitchell se eerste game as coach van die Bulle. Eina! Die Bulle se ondergang was hoofsaaklik hul swak verdediging en lakse dissipline.
Die Pumas het gewys hulle kan saam met die groot honde blaf ou grote. Die Bulle speel volgende op Loftus teen die Griekwas met die Pumas wat in Jo’burg teen die Leeus gaan uitdraf.
WP vs Haaie
Op Nuweland klop die Haaie die WP 21-20 in ‘n klipharde SA derby. Mooi was die wen nie vir die Haaie nie, maar Robert du Preez is baie verlig oor die vier waardevolle punte wat sy troepe weg van die huis af kon behaal. Die Haaie speel volgende teen die Vrystaat Cheetahs in Durban met die WP wat ‘n loslootjie geniet.
Cheetahs vs Leeus
In Bloemfontein druk Sergeal Petersen die wendrie in die doodsnikke om die Cheetahs 30-24 te laat wen. Die Leeus se afrigter, Swys de Bruin, beweer hulle is nog nie paniekerig nie en sal binnekort weer saam met die grotes kan gesels. Die Cheetahs speel volgende teen die Leeus in Durban en die Leeus draf in Jo’burg teen die Pumas uit.
Nag ou grote…
