Schools & sport

Uitblinkers by HFM

8 September 2017 · Platinum Bushvelder

Uitblinkers by HFM

Thabazimbi – Die Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) het oor die naweek van 25-26 Augustus op verskeie gebiede uitgeblink.

TONEEL

HFM het Vrydag 25 Augustus aan die ATKV Tienertoneel kompetisie deelgeneem by die Unisa Klein Teater tydens die Pretoria Streeksfees. Die jong akteurs en aktrises het baie goed presteer.

Vir Laberint ontvang Lydia Potgieter en Xerto Labuschagne elk ‘n brons sertifikaat vir individuele spel. Vir Verspeeldetyd ontvang Zanré van Rensburg en Melanie Engelbrecht elk ‘n brons sertifikaat vir individuele spel, en Anmarie Schutte  ‘n brons sertifikaat vir Projeksiewerk. Michelle Bornman ontvang ‘n brons sertifikaat vir verhoogbestuur. Dan ontvang Frikkie Meyer ‘n brons sertifikaat vir spesiale effekte, ‘n brons sertifikaat vir kostuums en ‘n brons sertifikaat vir stelontwerp.

“Die seuns en dogters van albei tonele het hul mooi gedra en as ware ambassadeurs van Frikkie Meyer opgetree. Die uitslae was nie wat ons graag wou hê nie, maar die gevoel van die beoordelaars was nie in ons guns gewees nie,” sê H Smit, organiseerder.

SKAAK

Die kranige skaakspelers het weer hulle vernuf gewys by die Laerskool Brits ope op Saterdag 26 Augustus. Tydens hierdie kompetisie wen AJ Janse van Vuuren een spel, speel een gelykop en eindig 15de uit 18 spelers. Wessel du Preez wen twee en eindig 11de uit 18 spelers.

BOOGSKIET

HFM skuts het deelgeneem aan die Limpopo Suid 3D kompetisie te Thabazimbi oor die naweek van 26-27 Augustus. Hierdie skuts behaal die volgende plekke: In die Vryskut afdeling verower Rion van Aardt goud en Renier van Heerden silwer. In die Boogjagter afdeling kry Selkirk von Wielligh goud en De Wet Viljoen silwer. In die Jong volwassenes afdeling verower  Martin Scheepers goud.

KRIEKET

Die 1ste krieketspan het op Saterdag 26 Augustus teen Mahwelereng te Amandelbult  gespeel. Die manne haal hulle opponente uit vir 94: Franco Potgieter neem 3 paaltjies vir 4 lopies; en Gareth Meyer 3 vir 11 lopies. HFM kry die wenlopies in die 12de beurt: Nimroe Lategan teken 26 lopies aan.

JUKSKEI

Vyf spanne van HFM het aan die Limpopo skole kampioenskappe op Saterdag 26 Augustus deelgeneem. Twee spanne behaal ‘n derde plek (brons medaljes), naamlik die o/16 A seuns en o/19A seuns. Twee spanne behaal ‘n tweede plek (silwer medaljes), naamlik die o/16A dogters en o/19A dogters.

Die o/19 gemengde span behaal ‘n eerste plek (goue medalje) en is dus Limpopo Kampioene. HFM, met 77 punte, eindig algeheel tweede in Limpopo ná PHS, wat 81 punte aanteken.

Baie geluk aan alle spelers en afrigters- dit is die derde jaar wat HFM se spanne almal onder top drie eindig. Hierdie spelers neem binnekort deel aan die provinsiale keuring te Polokwane.