Schools & sport

Trompoppies loop kompetisies trompop

8 September 2017 · Platinum Bushvelder

Trompoppies loop kompetisies trompop

Swartklip – Laerskool Platina Primary se trompoppies het uitstekend gevorder deur die jare. Díe oulike klomp het in 2012 begin en slegs plaaslik opgetree.

In 2013 is hulle uitgenooi om aan ‘n kompetisie in Klerksdorp deel te neem, en vandaar het hulle begin deelneem aan verskeie kompetisies. In 2014 is hulle by Noordwes Majorette and Cheerleading Association geaffilieer. Hulle het aan verskeie kompetisies deelgeneem asook ook aan die provinsiale kampioenskappe.

Hierdie jong dames het in verskeie afdelings deelgeneem soos die large drill en baton twirling. Wat so wonderlik was is dat hulle baton twirling gekwalifiseer het vir die nasionale kampioenskappe in Kaapstad, waar hulle ‘n vierde plek behaal het. Hulle het ook die trofee ontvang vir die groep wat die beste vordering getoon het.

In 2015 het hulle steeds in die Noordwes aan kompetisies deelgeneem. Die afdelings waarin hierdie poppe deelgeneem het was large drill, small drill en flags. Tydens die provinsiale byeenkoms is trofees ontvang vir die beste small drill in die groep asook ‘n 2de plek vir flags in die B-groep.

In 2016 het die trompoppies deelgeneem aan verskeie kompetisies in die Noordwes: dit was die eerste jaar waar daar juniors in die span was. Daar was nege graad twee dogters en agt seniors (gr 4-7). Hulle het ook weer aan die provinsiale kampioenskappe deelgeneem.

Weens verskeie redes is die besluit geneem om by LIMCA (Limpopo Majorette and Cheerleading Association) in te skakel in 2017. Daar het hulle aan drie kompetisies deelgeneem waarvan een die provinsiale kampioenskappe was.

Aangesien dit die eerste jaar is wat hulle in Limpopo deelgeneem het, is hulle in die ontwikkelingsgroep ingeskryf. Afdelings waarin hulle deelgeneem het was small drill, flags en poms. Die dogters het ongelooflik goed presteer.

“Ons het meestal eerste plekke behaal. Tydens die provinsiale byeenkoms is aangekondig dat die groepe wat in die ontwikkelingsafdeling deelneem, nie kwalifiseer om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem nie. Ons aansoek by SAMCA (SA Majorette and Cheerleading Association) dat die dogters nasionaal moet deelneem is goedgekeur,” sê Susan Bousema, afrigter, tydens ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant.

“Die dogters is tussen 10-11 Julie Durban toe vir die nasionale kampioenskappe. Hulle het geweldige potensiaal en tydens hierdie kampioenskappe het ons 19de plek van ‘n algehele 22 behaal. Hierdie trompoppies het glad nie nodig gehad om vir enige kompetisie terug te staan nie en ons is geweldig trots op hulle,” voeg sy by.

Die poppies is ook die afgelope drie jaar uitgenooi om aan die Tshwane Youth Arts Festival in die staatsteater te Pretoria deel te neem. Alle musiek en programme vir die verskillende afdelings word deur die span self behartig.

Die skitterende groep dogters en dames van Laerskool Platina Primary se trompoppies. Agter van links: Keamogetswe Mathabathe, Bhoikutsu Khumalo, Rose Tlhasi, Corina Prinsloo,  Tlotlo Kasa, Aimee-Lee Strydom en Merriem Motlhoki. Middel van links: Lesedi Modise, Mohau Mokae, Monique Strydom, Kgonyo Ramokgaba, Malebo Kolobe, Kaylin Kok en Binke Benade. Voor van links: Juanita Strydom en Susan Bousema, albei afrigters.