VAN ZYL PLAASMOORD

Steven Vermaak, ’n direkteur van HPG (Heritage Protection Group) het reageer op berigte dat agt verdagtes reeds in verband met die moord op Piet en Tilla van Zyl in hegtenis geneem is. Sedert die moord was daar onophoudelik deur verskeie spanne gewerk om leidrade op te volg wat gelei het tot hierdie inhegtenisnemings. Die polisie ondersoek duur voort.
Vermaak bedank die SAPD lede van Limpopo en Mpumalanga, asook die van Qiniso Lonke wat met die ondersoek gehelp het. HPG se eie mense het ook onverpoosd met hulle ondersoek voort gegaan. Vermaak doen ’n beroep op oningeligte persone wat die sosiale media gebruik om nie enige name of ander inligting te plaas nie, aangesien dit die ondersoek kan kniehalter. Geen name is nog beskikbaar nie en sal meer besonderhede volg sodra dit beskikbaar is.
Vermaak, wat ook die Voorsitter van TLU SA Noord is, doen opnuut ’n beroep op boere en plaasbewoners om hulle eie veiligheid in en rondom hulle huise op te skerp. Die oproep kom na die gewelddadige tydperk wat ons in Augustus 2017 beleef het met 34 plaasaanvalle en 8 moorde.
Elke boer en plaasbewoner moet gaan kyk en besef wat rondom ons gebeur. Is ons boere en plaasbewoners nog betrokke by landbou organisasies wat landelike veiligheid strukture op die platteland bedryf? Is ons hoegenaamd nog by enige steun organisasies betrokke, of sit ons apaties op ons plase en hoop ’n aanval gebeur nie op jou en jou gesin nie? Gaan ons nog op ons knieë om uitkoms te soek?
Die koelbloedige moord op Piet en Tilla van Zyl en andere laat ’n groot leemte in die onmiddellike samelewing. Mense wat altyd daar was om ander te help is skielik nie meer daar nie. Daar is niemand wat hulle plek in die gemeenskap kan vul nie. Die gemeenskap is soveel armer sonder daardie boer en sy vrou wat deur ’n sinnelose aanval uit die gemeenskap verwyder is.
TLU SA Noord Persverklaring, 5 September
