Fantasties se Octoberfest

Thabazimbi – Die Octoberfest aangebied deur Die Kooperasie te Koedoeskop op 5 en 6 Oktober was ‘n reuse sukses. Die hekke het Vrydag 10:00 geopen en die fees is afgeskop met ‘n losgoed veiling.
Die hoogtepunt van die fees, Heuwels Fantasties, het saam met die eienaar van Die Kooperasie, Johan Smit die nuwe verhoog geopen. Die Kooperasie se slagspreuk waar goeie vriende, goeie kos en goeie musiek gemaak word, is voorwaar nagekom!
Na die vertoning het hulle die res van die aand saam met hulle aanhangers geniet. Almal het saamgesing, lekker geëet en gekuier.
Daar was ook kosstalletjies waar mense lekker kon peusel en ‘n speelarea vir die kinders.
Saterdag het verskeie kunstenaars onder andere Beeskraal, Freckled Elvis Band, Zippo en Tertius die skare vermaak.
Johan is in ekstase oor die groot opkoms en sê dat hy baie hard daarvoor gebid het. “Ek wil net baie dankie sê vir al ons Kooperasie kliënte. Julle maak Die Kooperasie ‘n groot sukses!”
