Wynand van Vollenstee kom besoek KunsteGrot

Thabazimbi – Wynand van Vollenstee, beter bekend as Gielie van Ouboet en Wors, kom Thabazimbi toe met sy skreeusnaakse eenaandvertoning, ‘n Gewigtige Saak!
Die vertoning vind Woensdag 28 November by die KunsteGrot plaas om 19:00. Kaartjies verkoop teen R120 per persoon. Koop vandag nog jou kaartjies om teleurstelling te vermy.
Vir meer besonderhede, skakel Rita Volschenk by 083 744 8559.
MEER VAN WYNAND VAN VOLLENSTEE
‘n Gewigtige Saak is ‘n slimsnaakse solo stuk met Wynand Van Vollenstee. Gehore ken die veelsydige akteur en sanger Wynand van Vollenstee as Karate Kallie, sowel van sy briljante spel in produksies soos Ons Vir Jou, Getroud met Rugby, Platteland, Die Munisipaliteit Van Ghwarra-Ghawarra, My Vrou Se Man Se Vrou, en as die koddige Gielie in die trefferreeks Ouboet en Wors deur Willie Esterhuizen, wat op KykNet uitsaai.
Nou is hy op die planke te sien in sy eerste solostuk: ‘n Gewigtige Saak. Die produksie, ook geskryf deur Wynand, met regie deur Lizz Meiring, bied ‘n unieke, warmhartige en komiese blik op die majestueuse uitdagings van vet mense.
In ‘n wêreld wat te klein is vir ekstra groot mense, wag daar ‘n mynveld van komplikasies om elke noue hoek en draai. Terwyl vrouens dikwels hul vetsugtige lot bekla, word daar min uit ‘n mollige man se besige mond gehoor hoe swaar hul dra aan die ekstra bagasie – met komiese gevolge.
‘n Gewigtige Saak is uitstekend, oorspronklik en verrassende vermaak vir die goed gestoffeerdes van beide geslagte, sowel as vir diegene wat nog nooit ‘n kilojoule moes tel nie. Die solostuk handel uiteindelik oor ons basiese menswees en ons skreeusnaakse stryd met onsself en die samelewing.
