VLU Northam help met proppieprojek vir ‘n rolstoel

Northam – Op Dinsdag, 25 Julie het die Vroue Landbou Unie (VLU) Northam-tak sakke vol proppies aan Taryn Stander oorhandig.
Toe die VLU uitvind van Taryn se proppieprojek, het die groep vrouens dadelik besluit om Taryn te help, deur met elke vergadering proppies saam te bring. Indien Taryn 300kg se proppies sou insamel, kon sy dit ingee en in ruil daarvoor ‘n rolstoel kry wat sy aan ‘n behoeftige persoon kon skenk.
Northam VLU het orals proppies opgetel en bymekaar gemaak, en op die ou einde sowat 50kg aan Taryn oorhandig.
“Ons wil dan ook net vir elke VLU-lid en ander persone wat gehelp het om proppies bymekaar te maak, baie dankie sê,” aldus Riana Oosthuizen, voorsitter.
Om deel van die VLU te wees of vir enige navrae, kontak die skakelbeampte Chantell Steynberg gerus by 061-326 2724.
