POSITIEWE BEK-EN-KLOUSEER UITSLAE IN LIMPOPO

Die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het met skok kennis geneem van die uitbreking van bek-en-klouseer in die Vhembe-distrik in Limpopo, soos deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aangekondig.
Die uitbraak is baie slegte nuus vir die rooivleisbedryf, veral gesien in die lig van die feit dat die beesvleisbedryf op die drumpel gestaan het van wesenlike uitvoere na lande soos China.
‘n Vorige studie wat deur die Nasionale Landboubemarkingsraad onderneem is, het aangetoon dat die Suid-Afrikaanse landbousektor ‘n verlies van sowat R6 biljoen per jaar gely het tydens die vorige uitbreking van bek-en-klouseer.
Die RPO het aan die einde van verlede jaar sy ernstige kommer oor die bek-en-klouseer situasie uitgespreek omdat daar ‘n gebrek aan kapasiteit is om bek-en-klouseer maatreëls in plek te hou. Ondanks die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se beste pogings is die gebrek aan befondsing op nasionale en provinsiale vlak die grootste bron van kommer.
Die RPO sal in samewerking met die nasionale Dieregesondheidsforum alles moontlik doen om te verseker dat die hele proses voldoende befonds is. Die RPO is instrumenteel tot die daarstelling van provinsiale Dieregesondheidsforums en sal binne die strukture alle pogings aanwend ten einde die probleem op ‘n spoedige wyse te hanteer.
Dit is van kardinale belang om die Tesourie, die nasionale- en provinsiale Departemente van Landbou sowel as instansies soos die Europese Unie as moontlike befondsingsdonateurs in dié verband te nader.
Verder sal die RPO ook met die Departement en alle ander organisasies saamwerk om die huidige uitbraak op so ‘n manier te hanteer dat vertroue geskep word, ten einde Suid-Afrika se bek-en-klouseer vrye sone status so gou as moontlik herwin kan word.
RPO mediaverklaring 9 Januarie 2019
