/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
’n Plakboek vir die Eeue
AMELIA BERGSMA BRING HULDE AAN M.E.R.
Swellendam/ Thabazimbi/ Spitskop – Met toewyding, familieverbintenis en baie ure se werk het Amelia Bergsma van Spitskop onlangs ’n kosbare plakboek voltooi oor die bekende Afrikaanse skrywer Maria Elizabeth Rothmann (M.E.R.). Die plakboek is betyds per koerier na Komnader, M.E.R. se historiese huis in Swellendam, gestuur om deel te wees van die uitstalling wat tydens die vyfdae lange feesvieringe vanaf 28 Augustus 2025 geopen is.
Die fees was ter viering van M.E.R. se 150ste geboortedag, wat ook saamval met die viering van 100 jaar Afrikaans as amptelike taal. Amelia, ’n oudonderwyser van Hoërskool Frikkie Meyer en ’n bekende gesig in Thabazimbi, vertel dat sy reeds sedert die 1970’s begin het om knipsels en foto’s van M.E.R. te bewaar.
“Sy was my ouma se suster. Toe sy 95 word, het ek begin om alles oor haar te bêre. Ná haar 100ste verjaarsdag, net tien dae voor sy oorlede is, was sy weer groot in die nuus. Ek het geweet hierdie stukkies moet saamgehou word,” sê Amelia.
Hoewel die werk jare lank geslaap het, het sy dit in 2025 uiteindelik klaar laat tik, gerangskik en afgerond. Sy sê met ’n glimlag: “Ek kan glad nie tik nie! Ek tik net met my pinkie op my selfoon. Die netjiese tikwerk is geduldig gedoen deur my vriendin Susan Visser – sonder haar sou ek dit nie betyds klaar gekry het nie.”
Amelia erken dat sy gewonder het of sy dit ooit sou afrond: “In April het ek nog net by bladsye 1, 2, 3 en 4 getrek, en verder net na die bokse vol foto’s en uitknipsels gesit en kyk. Ek was totaal verlore. Ek het regtig nie gedink ek gaan betyds klaarkry nie.” Gelukkig was die projek net betyds voltooi en kon sy dit met trots vir die uitstalling stuur.
Amelia en haar broer en suster het self die fees in Swellendam bygewoon en onder meer die uitstalling gaan bekyk. Die foto waar sy by die plakboek staan, is daar geneem. Omdat hulle familie is van M.E.R., is hulle as eregaste genooi na die Saterdag se eenvrouvertoning TaMiem van Swellendam deur Bettie Kemp.
Hoewel jonger geslagte moontlik minder vertroud is met M.E.R., was haar invloed enorm. Sy het ’n sleutelrol gespeel in die vorming van die Afrikaanse letterkunde, was ’n baanbreker as opvoeder en skrywer, en haar werk leef voort as ’n “boublok van Afrikaans.”
Met die plakboek nou deel van Komnader se permanente uitstalling, bly Amelia se werk ’n tasbare herinnering aan hoe familie, passie en deursettingsvermoë kan help om ’n erfenis vir die toekoms te bewaar.
Photo: Amelia Bergsma, oudonderwyser van Hoërskool Frikkie Meyer en inwoner van Spitskop, by die kosbare plakboek wat sy saamgestel het oor die Afrikaanse skrywer M.E.R., oorhandig by Komnader in Swellendam tydens die 150ste verjaarsdagviering.
© 2025 - All Rights with Platinum Bushvelder