/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Annie Junior steel harte in Thabazimbi
Thabazimbi – Laerskool Thabazimbi het verlede week gehore betower met hulle uiters besonderse aanbieding van die musiekblyspel Annie Junior. Die rolverdeling, uitmuntende sang, sprankelende choreografie en toegewyde akteurspel het elke aand die gehoor meegesleur in Annie se wêreld.
Vier vertonings is vanaf 16 tot 19 September 2025 aangebied, met bykans elke aand ’n uitverkoopte gehoor wat die jong sterre beloon het met staande ovasies. Dinsdagaand is senior burgers spesiaal gratis uitgenooi.
Die hoogtepunt van die week was die gala-aand op 19 September, aangebied as ’n gesellige kaas-en-wyn by lang tafels. Hier is Vrede-en-Lust se Sauvignon Blanc met die simboliese naam Anni bedien – ’n perfekte pasmaat vir die aand.
Jacques de Villiers, beoordelaar van die Bosveld Interskole Kunstefees, was Woensdagaand in die gehoor en het groot lof uitgespreek. Hy het gesê die standaard van hierdie produksie selfs dié van baie stedelike laerskole ver oortref. Die groep is boonop as afdelingswenners in die revue-afdeling aangewys.
Agter die verhoog
Die sukses het nie oornag gekom nie. Reeds op 24 Februarie het die eerste oudisies begin. Sedertdien het maande se harde werk ingespan gegaan in sang, dialoog, verhoogspel, choreografie, dekor, kostuums en beligting.
Laerskool Thabazimbi kan met reg breëbors trots wees. Hierdie produksie was meer as vermaak – dit was ’n vertoonvenster van entoesiasme, uitnemendheid en hoop.
Foto: Stralend op die verhoog – Annie en haar mede-akteurs het gehore se harte gesteel met hul talent en lewenslus.
© 2025 - All Rights with Platinum Bushvelder