/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Kleure, Kreatiwiteit en Koedoes!
Koedoeskop – Ná drie maande se harde werk, dans, liedjies en lag het Laerskool Koedoeskop se leerders op 1 en 2 Oktober 2025 hul langverwagte Kaleidoskoop van Kleure revue met trots aangebied. Dit was nie net ’n fees vir die oog nie, maar ook ’n viering van spanwerk en gemeenskapsgees.
Vir die eerste keer het die skool se verhoog gestraal agter hul splinternuwe gordyn – ’n simboliese begin van ’n nuwe era vir die skool se kultuuraktiwiteite. Onder leiding van juffrou Maritza Ahlers en Natasha Smit, en met die bydrae van elke personeellid wat hul eie klas afgerig het, het die produksie ’n ware gemeenskapsprestasie geword.
“Ons personeelkorps is regtig ’n wenspan,” sê een van die organiseerders trots. “Van die skoonmakers, busdrywers, admin tot by elke onderwyser – almal het saamgestaan.”
Van die 230 leerders het 215 op die verhoog gestaan – elkeen met ’n glimlag, vol selfvertroue en kleur. Die twee stoelaande was uitverkoop, en die gala-aand het met groot sukses afgesluit. Die gemeenskap het ook hul deel gedoen deur aktief aan die veiling deel te neem waarmee fondse ingesamel is om die nuwe gordynprojek te voltooi.
Met kleure, musiek en vreugde het Koedoeskop gewys dat wanneer ’n gemeenskap saam droom en saam werk – word die resultaat ’n ware kaleidoskoop van trots!
Foto: Laerskool Koedoeskop se leerders het met hul 2025-revue, “Kaleidoskoop van Kleure”, die gehoor betower met talent, kleur en energie.
© 2025 - All Rights with Platinum Bushvelder