/home/f3782876/public_html/includes/header-articles.php on line 128
">
Articles
Social & Community News
20 December 2019

Thabazimbi/ Northam/ Rustenburg – Op Maandag 25 November het Solidariteit se #HelpJag projek wildsvleis aan organisasies wat aan minderbevoorregte gesinne kos voorsien, geskenk.

Verskeie organisasies, kinderhuise en ouetehuise in Thabazimbi, Northam en Rustenburg het gebaat by hierdie skenking. 


Vir baie Suid-Afrikaanse gesinne is vleis ‘n luuksheid, ‘n item gereserveer vir feesdae en spesiale geleenthede.


#HelpJag versprei saam met Solidariteit Helpende Hand se kosblikkie-projek wildsvleis na 92 kleuterskole regoor die land en voed daarmee 8,000 kleuters daagliks. 


Magies vol… dis waaroor dit gaan. Dit is hartverskeurend hoeveel kleuters afhanklik is van voedingsprojekte by skole as hul enigste ete van die dag. Dis die harde realiteit dat klein liggaampies nie normaal ontwikkel sonder ‘n gebalanseerde dieet nie. Dis moeilik om te konsentreer wanneer jy honger is; dis onmoontlik om te presteer terwyl jou magie grom.


‘n Gemiddelde koedoe se vleis kan 40 kinders vir 'n maand voed, ‘n blesbok sal 13 kinders 'n maand lank voed en ‘n rooibok kan 10 magies volhou vir 'n maand. 


Skenkings is deur Wild Wildebeest Safaris, Limcroma Safaris, Motsomi Safaris, Numzaan Safaris en Professional Hunters' Association of South Africa (PHASA) Conservation and Empowerment Fund  gemaak, sowel as ander anonieme skenkers van Thabazimbi. Die vleis is bewerk in maalvleis en kookvleis en netjies verpak. 

In ‘n onderhoud met Platinum Publishers het Barbara Oosthuizen van Tambotie Ouetehuis gesê: “Ons is baie dankbaar vir die skenking.

Dit is twee maande se vleis wat ons vir die mense in ons sorg kan gee. Dit is ‘n uitstekende projek en ek glo daar is baie ander organisasies wat hierby baat.”


“God het ons hande nodig – ons hande is God se hande. Ons hande is genesende hande. Hande wat salf smeer aan ander se wonde, hande wat voedsel gee aan die wat nie het nie, en self geestelike voedsel, hande wat vertroosting gee... hande wat swakkes optel en dra, hande wat trane afdroog, hande wat die weg aandui sodat God se kudde nie verdwaal nie.

Ja, ons hande is God se hande. Ons het gesalfde hande vir hierdie stukkende wêreld,” aldus Margalé Riekert, projekorganiseerder. 


Die publiek kan help deur ‘n bok te jag en dit te skenk aan die projek. Vir meer inligting gaan besoek gerus die webtuiste by www.helpjag.co.za..

Agter van links: Emmerentia Schutte, Cherise Steyn, Barbara Pienaar, Stef Swanepoel, Magda de Clerk, Talitha van Wyk en Annalie Connor. 
Voor: René Jansen

 

Share this article with a friend...