BEVEILIG JOUSELF!

Northam – Op Saterdag 6 April en Sondag 7 April, het die Northam Boerevereniging vir Glenn Mortelmans, ‘n Krav Maga veg-instrukteur, genooi om ‘n gratis bewusmaking- en veiligheidskursus vir die gemeenskap aan te bied.
“Dit is geen geheim dat ons onsself in gevaarlike en stresvolle omstandighede begeef nie.
Ons hoor daagliks van gruwelike aanvalle, veral op ou mense wat weerloos is... en ongelukkig raak hierdie dinge vasgevang in ‘n bose siklus. Hoe meer dit plaasvind, hoe banger raak ons, en hoe meer gaan dit gebeur. Hoekom?
Want wanneer jou vrede, jou trots en jou sekerheid van jou af weggeneem is, hoe meer is jy ‘n slagoffer, en hoe meer ons in daardie denkwyse vasgevang is, hoe makliker sal aanvalle op ons wees,” aldus Glenn.
Staan op, skud die onsekerheid af, en kry die regte opleiding om jou en jou gesin te beskerm.
Glenn Mortelmans, ‘n Belg van herkoms, gee selfverdediging en taktiese opleiding regoor die land om boere ‘n kans, op nie net oorlewing nie, maar om in vrede te kan leef, te gee. Die Israeli woord vir selfverdediging is Krav Maga.
Glenn is al 17 jaar aktief betrokke by Krav Maga opleiding nadat hy self in Israel, Poland en Brittanje opleiding ontvang het. Hy word as een van die top instrukteurs ter wêreld beskou. Glenn is die stigter van Krav Defence Systems en KM-TU (Krav Maga Tactical Unit) en bied selfverdediging- en taktiese opleiding aan.
Krav Maga is taktiese vegtegnieke wat ontwikkel is deur die Israeli weermag en bestaan uit ‘n kombinasie van die gevaarlikste tegnieke geneem uit boks, stoei, aikido, judo, karate en realistiese straatgevegte. Dié vegtegniek is ontwikkel om effektief te wees teen enige aanvaller.
Daar sal ook opleiding gegee word oor hoe om vertroud met wapenhantering te wees en wat om te doen in ‘n situasie waar iemand ernstig beseer is en die bloeding gestop moet word.
Moenie die opleidingskursus misloop nie en bespreek so gou as moontlik jou plek. Vir verdere inligting skakel Johan Young by 083 998 2593.
KERN PUNTE VIR PLAAS/ SELFVERDEDIGING
Stap 1: Moenie verskonings maak nie, word nou opgelei! Dertig jaar terug se weermag opleiding is ook nie meer genoeg nie. Kan jy wel onthou hoe dit in jou ingedril was?
Stap 2: Dink soos ‘n skelm! Kyk maar weer na jou plaas, plot of huis – maar kyk daarna deur die oë van ‘n potensiële boosdoener. Waar sal jy inkom? Waar sal jy wegkruip? Hoe sal jy op die gesin toeslaan? En dan as jy weet waar jou grootste swakpunte is, maak werk daarvan! Of dit nou meen om spreiligte te installeer, jou skoonma se rooibos af te kap of diefwering op die badkamer venster te sit.
Stap 3: Doen dit vandag! Noudat jy jou swakpunte sien, maak werk daarvan, vandag nog! Van uitstel kom afstel. Skelms gaan nie vir jou kans gee en wag totdat jy eendag die diefwering opsit voordat hulle toeslaan nie.
Stap 4: Besluit om positief te wees en oefen sodat dit tweede natuur word vir jou en jou gesin om te weet presies wat om te doen in tyd van nood. Laat elke lid van jou gesin weet presies wat hulle moet doen, selfs die kleinding moet weet waar om weg te kruip en stil te wees. Oefen die dril in!
