Hoenderpokke, wat nou gemaak?

Thabazimbi – “Vanjaar was die pokke uitbraak onder hoenders heelwat meer as vorige jare, weens die verhoogde hoeveelhede muskiete, die draers van pokke,” vertel Piet Strydom, ‘n hoenderboer van Thabazimbi.
Die eerste teken van hoenderpokke is sere op die kam en belle. Teen die tyd wat die sere hul verskyning maak, is dit reeds te laat om te ent en geen medikasie kan meer ‘n verskil maak nie.
Die siekte is ook hoogs aansteeklik en kan deur besmette of draerhoenders oorgedra word.
‘n Hewige uitbraak van die siekte kan hoenders laat vrek. Pokke kom selfs in die keel voor en hoenders versmoor, of kan nie vreet nie en vrek van die honger. Baie hoenders het ‘n geweldige koors, wat ook fataal kan wees.
In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder sê Piet, “Die belangrikste is om die sere te behandel – siende dat dit vreeslik jeuk.
Daar is verskeie raad op die mark soos Iodene wat die sere uitdroog.
Ander boere het kankerbossiesalf, vaseline en gliserien gemeng en twee maal daagliks aangesmeer om verligting vir die hoenders te bied.”
Piet beveel aan dat hoenderboere diere aan die begin van die jaar al inent teen pokke. ‘n Ander probleem wat hoenderboere ervaar is ‘n tekort aan entstof en daarom adviseer Piet dat dit beter is om seker te maak jy het voorraad.
