KASKARKENADES

Northam – Die Dorsmasjien het op Saterdag 6 April ‘n suksesvolle Bosveldmark gehou. Die dag was gevul met pret en samesyn. Die geesdrif was tasbaar en jy kon die gelag en die gekuier al van ver af hoor.
Nou ja, met ‘n knor en kreun het die karretjies die baan aangevat om te kompeteer. Kyk man... al was daar nog net drie wiele oor, stoot was daar gestoot om oor die lyn te kom! Al was dit duidelik dat ‘n paar kaskarre meer kas as kar sou wees, en daar ‘n wiel of twee vermis was, was die spangees tops. Almal was wenners met hul pure Bosveld uithouvermoë.
Stalletjies met worsies op ‘n stokkie, hamburgers, handgemaakte produkte, juwele en nog baie meer was beskikbaar. Vriende het gekuier en gesels oor boere, jag en die goeie ou dae!
Die hoogtepunt van die mark was natuurlik die kaskarkompetisie. Al die kaskardeelnemers het self hul tjorre gebou. Northam Toyota, een van die hoofborge vir die dag, het ook aan die gedoente deelgeneem.
Die Flower Power karretjie was met blomme versier om bietjie ekstra kleur te gee. Twee karretjies vir hierdie kompetisie was gebou en geborg deur Len Slippers van Noordwes Engineering.
Baie dankie aan die borge van die dag: Gert Byleveld vir die skaap, Union Slaghuis vir die borg van ‘n potjie ten bate van Solidariteit Helpende Hand Northam-tak, Ralf Coertze van Built it, Trauma Rescue Team (Northam), Northam Toyota Butch en Santa Anley vir die pryse, Ben Vortster en sy span vir die gebruik van die perseel en natuurlik al die uitstallers!
Die organiseerders van hierdie mark, Petrus en Marlene Nieman, maak graag van sulke geleenthede gebruik om die gemeenskap ‘n hupstoot te gee.
