Sesjarige deur hond aangeval [Brief aan die redakteur]
![Sesjarige deur hond aangeval
[Brief aan die redakteur]](/img/articles/Hond-verskeur-6-jarige.png)
Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om u meer te vertel oor die gebeure van 27 Maart toe my jongste dogter Caylee Young deur ‘n hond aangeval is.
Ons was in die proses om vanaf Thabazimbi na Pretoria te verhuis en was oppad om die sleutels van ons nuwe huis te gaan afhaal, toe my dogter deur die hond aangeval is.
Ek en my oudste dogter het uit die voertuig uitgeklim om die sleutels af te haal. Die hond het nader gekom en die inwoner het ons verseker dat die hond vriendelik was. Caylee was agter in die voertuig besig om speletjies op ‘n selfoon te speel. Ek het die passasierskant se deur oopgemaak om in te klim en die hond het in die kar gespring.
Caylee was rustig besig om te speel toe die hond aan haar gesig begin ruik het. Ek het dadelik ongemaklik gevoel en die volgende oomblik het sy begin huil en gesê dat die hond haar byt. Sy mond was om haar arm en sy het vreeslik begin skree.
Ek het dadelik op die hond gespring en hom van Caylee probeer afkry. Ek het my hande in sy mond gedruk om sy kake oop te kry en my vingers is in die proses ook oopgeskeur.
Die inwoner kon dit intussen regkry om Caylee uit die kar te haal en met haar weg te hardloop. Die hond het egter weer op hulle afgestorm en haar aan die bene gebyt.
Caylee se arm, onderarm en bene het erge beserings opgedoen. Sy moes 150 steke kry en het 16 bytwonde oor haar lyf.
Die eienaar van die hond is tans in Kanada maar het my reeds gekontak om te hoor hoe dit met Caylee gaan.
Hierdie was ‘n nagmerrie vir ons gesin en ons is net dankbaar dat sy nou goed aansterk en stadig maar seker herstel.
Jessica Young
