Headlines

Wildboer van die Jaar

26 April 2019 · Platinum Bushvelder

Wildboer van die Jaar

Dwaalboom – George Potgieter is aangewys as die Wildlife Ranching South Africa (WRSA) se wildboer van 2018 tydens die WRSA gala-geleentheid in Pretoria op 6 April.


WRSA gee jaarliks erkenning aan wildboere. Drie kategorieë naamlik groen ekonomie, biodiversiteit en sosiale verantwoordelikheid word beoordeel.

Die ‘Wildboer van die Jaar’ is dus iemand wat op al die fronte puik presteer. ‘n Paneel beoordelaars besoek al die genomineerde wildboere regoor die land om uiteindelik hul besluit te maak.


George het in Thabazimbi grootgeword. Hy het sy skoolloopbaan by die destydse Hoërskool Thabazimbi (nou Hoërskool Frikkie Meyer) voltooi en na matriek BCom landbou ekonomie studeer.
Ná hy sy studies voltooi het, het hy die plaas Schoongezicht in 2001 gekoop.

Die plaas grens aan Botswana in die Dwaalboom-Rooibokkraal gebied. Die plaas het vinnig uitgebrei oor ‘n wye spektrum van boerdery aktiwiteite op verskillende plase en Schoongezight is vandag ‘n selfonderhoudende wildsplaas. Die plaas is ‘n prima jagbestemming vir plaaslike en oorsese jagters. Hy is ook bekend vir sy topgehalte diere, veral die teel van bastergemsbokke.

In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder het George gesê: “Ek  beskou dit as ‘n ongelooflike voorreg om daagliks te kan optree oor dié wat die Almagtige geskape het.”

Hy skryf sy sukses toe aan die ondersteuning van sy vrou Genie en die samewerking van sy uitstekende werkers en plaasbestuurders.

Van links: Genie Potgieter; wildboer van die jaar George Potgieter; en sy ouers Cathleen en Philip Potgieter.