Headlines

Van toeka tot nou… JF VAN GRAAN PROKUREURS

24 May 2019 · Platinum Bushvelder

Van toeka tot nou…
JF VAN GRAAN PROKUREURS

Thabazimbi – In die 1940’s het Thabazimbi ‘n populasie ontploffing ervaar. 


Sakemanne en professionele beroepsmense het die potensiaal van die groeiende gemeenskap raakgesien en wou hulself vestig in die bosveld.


Voordat Thabazimbi as ‘n dorp proklameer is, was dié droom ‘n uitdaging omdat die stuk grond steeds aan Yskor behoort het. 


Die grense van Thabazimbi was aanvanklik gesluit vir die privaat- dokter, prokureur, tandarts, winkeleienaar, bakker en vele aner. Vir eers moes besigheidsmense hulself buite die grense van die Yskor-gebied gevestig. 


Jan van Graan, prokureur, notaris en aktevervaardiger, wou ook sy praktyk in Thabazimbi vestig, maar in Februarie 1949 is sy aansoek egter afgekeur en hy moes noodgedwonge ‘n perseel buite die dorp bekom. Hy het sedert April 1949 as prokureur in die Thabazimbi-omgewing gepraktiseer. 


Hy was egter ontevrede, omdat die akkommodasie onvoldoende was – vêr van die poskantoor, bank en magistraatskantoor... asook in ‘n swak buurt.

In ‘n pleitbrief aan Yskor het hy sy haglike omstandighede beskryf. Hy was van mening dat hy sy regmatige plek in Thabazimbi verdien, aangesien baie van Yskor se werknemers sy kliënte was. Die Yskorraad wou steeds nie toestemming aan buitestaanders verleen nie. 


Met die proklamasie van die dorp in 1953, is die dorp meer huis- en boulenings toegestaan vir ontwikkeling en Jan kon uiteindelik sy praktyk hier vestig. 


Jan – een van Thabazimbi se eerste prokureurs – en sy vrou, Christine van Graan, het in die 1980’s hul praktyk aan Van der Wateren verkoop. Die prokureursfirma se naam het verander na JF van Graan en Van der Wateren Prokureurs, ‘n firma wat tot vandag toe nog sterk staan.


In ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder, het Jan se kinders, Jannie van Graan en Rachel Butler, vir ons ‘n bietjie meer van hulle pa vertel.

“My pa was ‘n geduldige man. Hy het altyd sakke geld aan mense geleen en nooit die geld teruggevra nie.

Hy het saans ure buite spandeer en die sterre bestudeer. Hy kon amper enige ster uitken en konstellasies  uitwys,” aldus Rachel. “My ma was die kwaai een van die twee – my pa het altyd vir ons geskerm.

My ouers het mekaar destyds in Brits ontmoet. Hulle is net na die tweede wêreld oorlog getroud. My ma het die Suid-Afrikaanse wetgewing net so goed soos my pa geken, en al die jare saam met hom moue opgerol in hul praktyk.” 


Jannie van Graan sê: “My pa het ‘n stuk grond gehad by Rooidam waar ons gewoon het. Wanneer hy vir my kom nagsê het, het hy my ‘clear Klasie’ genoem. Hy het ons beeste ‘kappe’ genoem. Ons mis hulle. Met my pa se begrafnis het Laerskool Ysterberg erewag gestaan en die koor het kom sing. Almal was lief vir my pa en hy het diep spore in Thabazimbi getrap.”


Dit is vir Platinum Bushvelder ‘n voorreg om die geskiedenis, leed en wese van Thabazimbi oor die jare heen te deel met ons lesers. Ons hoofbron kom van die boek: Thabazimbi Ysterertsmyn (1931-2006) geskryf deur Anette Barnard, en word aangevul met onderhoude en foto’s.

Die JF van Graan en van der Wateren se huidige kantoor.
Die eerste gebou waaruit Jan van Graan praktiseer het.
Jan en Christine van Graan.