Moksie voltooi nóg ‘n Comrades Marathon

Thabazimbi – Op Sondag 9 Junie, lê Elize Pelser, beter bekend as Moksie, haar vierde Comrades Marathon af.
Hierdie is ‘n besondere prestasie vir enige atleet – maar vir Moksie was die pad na die eindstreep ‘n groot oorwinning.
In 2007 het Moksie ‘n knop in haar bors gevind. Toetse het bevinf dat dit kwaadaardig was, en sy het ‘n volle mastektomie en chemo ondergaan. Sewe jaar na sy in remissie gegaan het, het sy weer begin hardloop en fietsry.
In 2013 het sy haar eerste Comrades Marathon voltooi.
‘n Paar maande later het Moksie dergelike borsbeen en rugpyne ervaar – met tye kon sy nie eens haar arms oplig nie. X-strale het egter niks opgelewer nie...
‘n Radiografis vriendin het haar plate vergelyk met plate van vorige jare, en dadelik vir haar ‘n afspraak by ‘n onkoloog gemaak.
In 2014 het sy die diagnose gekry; mammakarsinoom (borskanker) met metastase na die skelet. Haar dokter het aanbeveel dat sy nie meer hardloop of fietsry nie. As sy sou val, sou dit beteken dat die been nie weer maklik sal aangroei nie.
Sy het besluit om op te hou fietsry en net te hardloop. Sy het intussen vriende gehelp slyp vir die Comrades Marathon. In 2015 het sy baie bedruk geraak en besluit sy gaan weereens begin werk om haar volgende marathon aan te pak. Sy voltooi die maraton in 2016 in 10 ure en 15 minute, en in 2017 in 10 ure 26 minute.
In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder het Moksie gesê: “My grootste motivering is God se genade teenoor my, my familie en die ongelooflike groep mense waarmee ek elke dag kan werk.
Dit inspireer my elke dag om te weet dat ek vandag iets vir iemand kan beteken.”
Douvoordag is sy gewoonlik op om ‘n uur lank te gaan draf, voor die aërobiese klasse wat sy aanbied. Sy rig ook langafstande by Hoërskool Frikkie Meyer af.
