Die uitslae is in, en hier is die finaliste!

Thabazimbi – Dit is weer tyd vir die Thabazimbi Lanbouskou se baba en kleuter foto-kompetisie wat aangebied word deur Medhof Apteek.
Die prysuitdeling vir die kompetisie sal plaasvind om 09:30 op Saterdag 27 Julie in die Trollope saal by die skouterrein en alle finaliste moet teenwoordig wees. Die finaliste se toegangsgeld moet by die hek betaal word.
Tydens die prysuitdeling het die kleingoed die geleentheid om te kom spog met die uitrustings wat hulle aangehad het met die fotosessie, dit is egter nie verpligtend nie.
Die program word aangebied deur Nelre Benade en Debbie Viljoen.
Behalwe vir die wenners in die verskeie kategorieë, sal daar ook baie ander pryse wees. Mountain Bear van Eagle Mountain Spur Steak Ranch sal ook daar wees om die pryse uit te deel en die kleinspan te vermaak.
Die gewilde oupa- en oumadans saam met die kleinkinders sal weer deel uitmaak van die program met twee spesiale geskenkpakke van Nativa wat gewen kan word. Die fotograaf van die kompetisie, Mari Engelbrecht, sal ook teenwoordig wees om die kategorie wenners af te neem. Baie sterkte aan al die finaliste!
