Vee- en wilddiefstal voorkomingsforum vergader

Northam – Limpopo vee- en wilddiefstal voorkomingsforum is ‘n nasionale rooivleis produsent organisasie (RPO) inisiatief wat deur Limpopo RPO (LIMRPO) gedryf word.
Die forum, wat kwartaalliks vergader, het byemekaar gekom op 10 September by die Northam Boerevereniging saal.
Die forum word ondersteun deur die provinsiale polisiekommissaris, die provin-siale polisie veediefstaleenhede, sigbare polisiëring en georganiseerde landbou-organisasies wat onder die vaandel van die Limpopo Landelike Veiligheid Forum (LLVF) gedryf word.
Ander lede van die forum is onder andere die Nasionale Vervolging Gesag (NVG), Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing en Toerisme en die Suid-Afrikaanse Federasie vir Lewendehawe Afslaers (SAFLA).
Daar was klem gelê op die rapportering van wild- en veediefstal gevalle. Limpopo vee- en wilddiefstal voorsiter Douw Pelser, het versoek dat alle rolspelers help om veediefstal te bekamp.
Die algemene publiek word versoek om veeboere by te staan in die stryd teen veediefstal.
Die provinsiale polisie statistieke wys duidelik dat Polokwane, Lebowakgomo, Marble Hall en Modimolle die vier brandpunt areas is wat diefstal van beeste betref.
Daar word dringend versoek:
- Dat alle vee-eienaars ‘n unieke brandmerk registreer en om die geregistreerde merk op alle betrokke vee aan te bring soos omskryf in die Wet op die Identifikasie van Diere, (Wet 6 van 2002).
- Dat die dokument van identifikasie en veeverwyderingsertifikate voltooi en verskaf word tydens alle transaksies.
- Dat alle veekopers, abattoirs, voerkrale en afslaers vee-eienaarskap bevestig en weier om lewende hawe in besit te neem wat nie gemerk is, of waar die nodige dokumente van identifikasie en veeverwyderingsertifikate die besending nie vergesel nie.
Die registrateur op brandmerke is besig om die brandmerk register op datum te bring en alle vee-eienaars word versoek om hul brandmerk sertifikaat inligting op te dateer. Die volgende inligting kan per e-pos na Limpopo RPO se kantore gestuur word by w.prinsloo1@mweb.co.za:
ID nommer, volle name en van, provinsie, landdrosdistrik, plaasnaam, posadres en selnommer.
Vee- en wildeienaars word ook versoek om alle diefstalsake by die polisie aan te meld. Die CAS nommers van sake, waar probleme ondervind word, kan deurgegee word aan LIMRPO se kantore vir opvolging deur die regte kanale.
Die volgende vergadering vind plaas op 12 November in Polokwane. Die forum doen nou reeds ‘n beroep op boere en alle rolspelers om die datum in hulle dagboeke aan te teken.
Vir enige navrae kontak Douw op 082 820 5228 of Limpopo RPO bedryfsbestuurder Wilma Prinsloo op 082 556 4553.
