Headlines

Tweeling vier hul 80ste verjaarsdag!

27 September 2019 · Platinum Bushvelder

Tweeling vier hul 80ste verjaarsdag!

Northam/ Rustenburg – Dit is nie vir almal beskore om die hoë ouderdom van 80 jaar in goeie gesondheid te haal nie. Bertha Coetzee en Rina Jacobs, ‘n identiese tweeling, het op Saterdag 14 September hul 80ste verjaardag saam gevier.  


Bertha en Rina is op 14 September 1939 op Ventersdorp gebore as die laaste toevoeging tot Koos en Maria Meyer se gesin. 


Dié tweetjies het by ‘n plaasskooltjie op Blesbokfontein – sowat 3km van hul tuiste af – hul laerskoolloopbaan voltooi voordat hulle by Hoërskool Ventersdorp hul hoërskoolloopbaan, in die koshuis, voleindig het. 


Hulle ousus was destyds in Johannesburg by die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) werksaam en só het dit gekom dat sy ‘n kollega, Corrie Coetzee, aan haar ouboet Danie Meyer voorgestel het. 


Die Meyer en Coetzee jongklomp het jolig saamgekuier. Dit het nie lank gevat vir Corrie se broer, Hendrik Coetzee, om vlerk te sleep by Bertha nie. 


Later het die jongklomp ‘n naweek by Hendrik se neef, Willie Jacobs, op hul plaas Pony naby Swartklip gaan kuier. Willie en Hendrik het vir Rina en Bertha na die bioskoop geneem – en so het Willie en Rina se verhouding vlam gevat. 


Op 5 November 1960 het Willie en Rina die knoop deurgehaak en huweliksklokke het gelui. Hulle het hulself in die bosveld gevestig. Willie was ‘n elektrisiën op Swartklip en het ook geboer. Hulle was jare lank woonagtig op Swartklip en woon tans op die plaas Pony.


Bertha en Hendrik het vir twee jaar lank hul verhouding gestaak – maar op die einde het liefde oorwin en is hulle drie jaar later op 4 Mei 1963 getroud. Hulle het hulself in Alberton gevestig waar Hendrik as passer en draaier gewerk het.


Hendrik en Bertha het in 1969 Swartklip toe verhuis, en sowat ses jaar later het hulle Potchefstroom toe getrek... Maar bosveldmense aard mos beste in ons kontrei en twee jaar later bevind hulle hulself weer op Swartklip. Hulle het ook intussen in Rustenburg en Koster gewoon, voordat hulle verhuis het na Mooinooi – waar hulle tans by een van hul seuns woon. 


Uit die huwelik tussen Willie en Rina is daar drie kinders, agt kleinkinders en vier agterkleinkinders gebore. Uit die huwelik tussen Hendrik en Bertha is daar twee kinders en twee kleinkinders gebore.
Dié tweeling gaan nou volstoom vorentoe vir die volgende mylpaal om net met genade van Bo, saam hulle 90ste verjaardag te vier!  Wat ‘n lieflike en ryk storie! 

Rina Jacobs (links) en Bertha Coetzee – ‘n identiese tweeling.
Van links: Hendrik Coetzee, Bertha Coetzee, Rina Jacobs, en Willie Jacobs.