Headlines

‘n Boer maak ‘n plan!

27 October 2017 · Platinum Bushvelder

‘n Boer maak ‘n plan!

Thabazimbi – Golan Krav Maga International (GKMI) het onlangs ‘n ‘Farmer’s Tactical Training’ opleidingskursus aangebied tussen 14-15 Oktober.

Hierdie hoogs aangeskrewe kursus is aangebied ‘n klipgooi buite Thabazimbi vir boere oud en jonk in die omliggende area. Opleiding het teoretiese en praktiese aktiwiteite ingesluit om situasies soos padblokkades, huisaanvalle, plaasaanvalle, gevegstryde en selfverdediging om maar ‘n paar op te noem. Arrestasie tegnieke en hoe om ander boere by te staan en ware hulp te verleen in nood situasies was ook aan die orde van die dag.

“Hierdie is noodsaaklike opleiding weens die toenemende plaasaanvalle en moorde wat ons kontrei rooi verf. Die statistieke ruk hand uit. Ons moet na mekaar draai om ‘n daadwerklike verskil te maak,” aldus Johan Young in ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant.

Sê Jan-Louise van den Berg, ‘n jong boer van Northam: “Hierdie was my tyd en geld werd. Moet nie die volgende geleentheid mis nie. ‘n Mens kan nooit te min doen om die lewe van jouself en jou geliefdes te beskerm nie.”

Hierdie is een van baie voorbeelde waar boere se paraatheid opskerp – maar dit is nie genoeg nie.

Johan Young vra dat die Limpopo gemeenskap inskakel by die noodkanaal (radio netwerk, Niel by Vicom: 083-656 6731) en noodroep WhatsApp groep sowel as toegangsmerkers en kan hom skakel by 083-998 2593 vir meer inligting.

“Hierdie noodgroepe is gestig ten einde te help met veiligheidverwante sake in ons area. Dit is nie ‘n kuier of sosiale groep vir oulike kettingboodskappe of grappe nie. Ons is hier om mekaar se lewens te red en elke sekonde maak ‘n verskil. Enige bydraes t.o.v. veiligheid hetsy diefstal, aanvalle, betogings, vure, ongelukke en dies meer word op die blad gedeel,” aldus Young.

“Hoe meer stene ons het, hoe sterker is ons mure. Die areas word ook voorts op verdeel in sektore om al die plaas en kleinhoewe merkers en nommers toe te staan, sodat wanneer ‘n nood opduik, almal flink kan weet waar en hoe wat moet gebeur. Praktiese reëlings in díe verband word dan deurgegee bv GPS koördinate. Kontak ons gerus. Ek wag vir jou oproep!”

Mans en vrouens in aksie tydens die opleiding.
Francois en Jan-Louis benut die aktiwiteite algeheel.
Agter van links: Gert de Beer, Stefan Swift, Nico de Beer, Jan van der Merwe, Nico de Beer (2), em Louis van den Berg. Middel van links: Suzettte Burger, Ané Swift, Fransie Botha, Pieter Lemmer, Bennie du Plessis, Robin Marais, en Nickey Cronje. Voor van links: Hendrik Potgieter en Francois Hayes, instrukteurs .
Ané Swift in aksie!
Stefan en Ané Swift besig met die beskermingsaksie.