Headlines

Apie kry ‘n tweede kans

29 November 2019 · Platinum Bushvelder

Apie kry ‘n tweede kans

Thabazimbi – Na ‘n vreeslike storm op Dinsdag 26 November, het Kransberg Diere Kliniek ‘n oproep ontvang van ‘n gemeenkapslid wat ‘n paar dae-oue blou apie op sy plaas gevind het. Die gemeenskapslid het die apie eers in ‘n boom gesit op te kyk of die mamma hom nie kom haal nie, maar na die mamma nie teruggekeer het nie, het hy besluit om hulp in te roep.


Kransberg Diere Kliniek werknemer, Ernest Marais het Gitta-Martula Wildlife Rehabilitation Centre geskakel. Ongelukkig kon hul nie die apie dadelik gaan haal nie en Ernest moes self intree. 


Gitta-Martula direkteur Cara de Bruyn het baie duidelike instruksies aan Ernest gegee oor hoe om na die apie om te sien. “Ek het maar deur die aand opgestaan en seker gemaak sy eet en kry bietjie aandag. Sy het beslis ‘n indruk op my gemaak, al was dit net vir een aand,” het Ernest aan Platinum Bushvelder gesê.


Ernest het baie geheg geraak aan die apie, en haar Ruby gedoop. 


Ruby is op 27 November deur lede van Gitta-Martula Wildlife Rehabilitation Centre kom haal sodat sy gerehabiliteer kan word en weer vrygelaat kan word. “Ek weet sy is nou in goeie hande en is bly sy sal weer kan terugkeer na haar natuurlike habitat.”


Indien jy op enige wilde diere afkom wat siek, beseer of wees gelaat is, kontak Gitta-Martula Wildlife Rehabilitation Centre op 014 786 2903.

Die Op-en-wakker Ruby