Die beseerde byevanger

Thabazimbi – Die beseerde goue byevanger voëltjie het op Vrydag 17 Januarie langs die pad gehop toe ‘n barmhartige samaritaan hom gewaar.
Die voëltjie is dadelik na Medivet geneem om ondersoek in te stel. X-strale het bevestig dat sy vlerk gebreek was en hy is dadelik op pyn en anti-inflammatoriese medikasie gesit voor hy die volgende dag moes ingaan vir sy operasie.
Die operasie het behels dat hul ‘n baie fyn hol pen moes gebruik om die gebreekte been van die vlerk te heg. Die pen is hol en lig genoeg sodat die voëltjie sal kan vlieg daarmee aangesien hul nie die pen na ‘n paar weke kan uittrek nie.
Die Europese byevanger staan ook bekend as die goue byevanger. Hul kom voor in Suid Europa en Noord Afrika. Mens sien hul nie gewoonlik naby menslike wonings nie, behalwe na goeie reën wanneer hul na bye korwe soek. Die voëltjie migreer van af Europa gedurende middel Julie tot middel Augustus sodat hul in Suid Afrika is wanneer die lente begin.
Hul eet meestal bye maar kan ook smul aan enige ander insekte. Mens sien hul gewoonlik in swerms van 20 tot 100 en hul vlieg baie hoog in sirkels rond. Die voëltjies kwetter graag as hul rondvlieg maar is tjoepstil as hul stil sit.
Die operasie het goed verloop en die voëltjie was onder ‘hokrus’ vir ‘n paar dae geplaas voordat hy op 27 Januarie weer vrygelaat is.
