Slang Seilsoen

Thabazimbi – Te danke aan ons wonderlike reënseisoen die jaar koes die inwoners van Thabazimbi en omliggende areas heen en weer vir slange!
Nie net word hulle in jou huis of erf gevang nie, maar ‘n bekommerde gemeenskapslid het vir Peet van Breda geskakel, nadat ‘n swart mamba in sy kuiergas se motor ingeseil het. Die gaste moes nog terugry Welkom toe en van Breda moes twee en ‘n half ure sukkel om die slang uit die motor te kry.
Die slang het met hom ‘gedans’, van die petrol tenk af, regdeur tot die motor se kattebak. Die motor se bumper moes ook in die soektog afgehaal word.
Tussen die slangvanger ystermanne, het hulle ongeveer 160 slange tussen November 2019 en einde Januarie gevang.
Slangvanger Charles Jansen van Vuuren het aan die Platinum Bushvelder bevestig dat hy 20 slange in die tydperk gevang het, waarvan die spoegkobra die mees algemeenste was. Van Breda het weer ongeveer 50 gevang, waarvan spoegkobras en luislange albei vir hom algemeen was.
“Moet asseblief nie ‘n spoegkobra tart nie,” sê Janse van Vuuren.
Janse van Vuuren waarsku ook dat die spoegkobra baie gevaarlik is en as jy vermoed dat jy een gewaar, jy hul moet skakel om te kom help. Hy adviseer ook dat jy nie jou oë uitwas met melk indien die slang jou in die oë spoeg nie, gebruik water en skakel dadelik vir mediese hulp..
“Slange is meer bedrywig tussen Desember en Mei, afhangende van die reënseisoen, meer reën veroorsaak meer slange. Slange is gewoonlik agter klein prooi aan soos muise, rotte, akkedisse, geckos en voëls. Vir so lank as wat daar kos is sal daar slange wees.
Dit is nie algemeen vir slange om in pare te beweeg nie, maar hulle kan wel in pare gevang word tussen April en Mei gedurend paartyd.
“Ons hele groep slangvangers vra dat die gemeenskap asseblief nie die slange enige skade aandoen nie. Hulle is nie net belangrik vir ons ekosisteem nie, maar hulle is ook broodnodig vir teengif. Ons is bewus daarvan dat die slange soms ongesiens jou huis of eiendom binnekom, maar hulle is nie aggressief van natuur nie.
Slange val nie ‘n mens net aan nie. Hulle reageer op beweging, uit vrees, seer of selfverdediging. Ons vra dat julle ook julle oë op die slang hou as julle ons bel en die slang identifiseer. Ons ry op ons eie onkoste om te kom help. Ons vra ook dat die gemeenskap die slang moet dophou sodat as ons by iemand se huis aankom, ons nie eers moet soek vir die slang nie” moedig Peet aan.
