Headlines

Thaba Angels help Ethan

7 February 2020 · Platinum Bushvelder

Thaba Angels help Ethan

Thabazimbi – Ethan Visagie het ‘n seldsame siekte genaamd Arthogryposis en is gebore sonder spiere in sy arms.


Alhoewel sy ouers, Marius en Rozanne Visagie, hul bes probeer om vir Ethan ‘n normale lewe te gee, is daar verskeie uitdagings wat die gesin ervaar. 


Ethan is tans in ‘n tuisskool waar Groenvlei Tuisskool eienaar Sannie Schutte hom help. Ten spyte van sy diagnose vaar hy baie goed op skool, maar sy skouers raak baie moeg van skryf. Om hiermee te help het hy ‘n spesiale rekenaar nodig gehad.


Daar is met groot liefde fondse ingesamel en Thaba Angels het op Woensdag 22 Januarie ‘n rekenaar aan Ethan oorhandig. 


Mac’s motorfiets klub lede, president Ashley du Bruin en Tech Dr. eienaar  Elize Gildenhuys het sekergemaak dat Ethan die regte rekenaar kry wat opgebou is om aan sy spesifikasies te voldoen. 
Liquid2 eienaar Sandra Swart Jansen het ‘n  Toy Run en Show and Shine aangebied om ook fondse in te samel. 


Pierre Loots, Brian Steenkamp, Cherise Steyn, Bokkie Groenewalt en Jaco du Toit het ‘n blou wildebees geborg vir loodjies om addisionele finansiële bydraes op te lewer. 
Thaba Tolo eienaar Pierre Loots het selfs ‘n naweek-wegbreek geborg vir die Visagie-gesin.
‘n Baie spesiale dank aan die lede van Thaba Angels wat hardgewerk het om die skenking moontlik te maak.

“Dit is harde werk, maar lekker werk om te weet jy kan ‘n verskil in iemand se lewe maak. Ethan het baie diep in ons harte in gekruip. Dit is voorwaar ‘n riem onder die hart om te sien hoe die gemeenskap saamstaan,” sê Thaba Angels lid Brian Steenkamp.


In ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder het Rozanne gesê: “Ethan is ‘n baie gedetermineerde kind. Hy weet waartoe hy in staat is en ons hoop en bid dat hy nooit sy passie sal verloor nie.

Die rekenaar sal beslis ‘n groot verskil maak in sy lewe, want dit beteken hy sal akademies kan bybly by ander kinders van sy ouderdom. Ons is voorwaar baie dankbaar vir elke persoon wat bygedra het om sy droom te verwesenlik.”

Agter van links: Brian Steenkamp, Marius Visagie, Rozanne Visagie en  Elize Gildenhuys. Voor: Ethan Visagie.