Thabazimbi help mekaar

Thabazimbi – Sanet Maasberg, een van die staatmakers van die Albro Sopkombuis span, het op Sondag 5 April ‘n dringende pleit op sosiale media geplaas vir voedsel om die behoeftige gesinne in die area te help.
Die sopkombuis het 35 gesinne waarvoor hulle tans sorg. “Ons koskaste was leeg en ons moes staatmaak op ander se hulp om seker te maak dat die gesinne in ons sorg kos het. Dis veral nou moeilik want daar is kindertjies wat heeldag by die huis is en wil peusel,” aldus Maasberg.
Sy het kratte voor haar huis gepak en versoek dat enige iemand wat ‘n bydrae wil maak, dit in die kratte sal pak. Die volgende dag het die gemeenskap en selfs mense sover as Setaria hul harte en hande oopgemaak om die organisasie te help.
Maasberg was verbaas en dankbaar oor die groot hoeveelhede mense wat ingegryp het: “Ons was so geseën met die bydraes dat ons 55 gesinne kon kosgee en ander organisasies ook kon help. Baie dankie aan elke persoon wat betrokke was met die voedingskema, mag God julle almal ryklik seën.”
Indien jy ‘n bydrae wil maak, lewer graag kos af by 14 Eerste Laan, Thabazimbi. Vir meer inligting, kontak Maasberg op 083 620 1837.
