Kiko loop weer!

Thabazimbi – Kiko, ‘n tweejarige woef, het op Vrydag 20 Maart by Medivet Dierekliniek besoek afgelê na sy eienaar die aand voor die tyd gebel het om te hoor wat hy vir ‘n seer been kan gee. Kiko was die vorige dag per ongeluk met ‘n waentjie getref.
In die begin het dit nie te sleg gelyk nie, maar toe Kiko nie wil opstaan en mooi loop nie, het sy eienaar geweet daar is iets groot fout.
Die Medivet-span het x-strale geneem. Hulle het na sy agterbene, pelvis, heupe en stert gekyk. Kiko het ongelukkig ‘n baie lelike breuk in sy pelvis opgedoen. ‘n Groot besluit moes toe geneem word...
Die span en Kiko se oubaas was positief en gedetermineerd om die delikate operasie aan te pak om Kiko ‘n kans te gee. Na vier ure in teater met ‘n span van vyf mense en ‘n baie bekommerde eienaar buite die kliniek, is die taak suksesvol afgehandel.
Kiko se bekkenbeen, heup en stuitjie was gebreek en verskuif. Die dokters moes die bene weer nader aanmekaar trek en die breuke stabiliseer met skroewe, plate en draad. Die operasie was ‘n reuse sukses. Nou is die vraag... sal Kiko weer kan loop en normaal rondbeweeg?
Kiko was vir net minder as ‘n maand in die hospitaal gehou. Kiko se pyn moes mooi gekontroleer word en die eerste paar dae na die operasie het die woef onder sedasie gebly sodat hy nie kon beweeg nie. ‘n Week later het Kiko opgestaan, maar sy een pootjie was nog dom weens die senuwee-skade van die ongeluk. Hy het uit die hospitaal uit geloop, 'n paar meter op die gras gedraai voor hy weer terug na sy hok toe is. Hy het in die begin op die bokant van sy poot geloop.
Dapper stapper het Kiko daagliks verder begin loop – en wou glad rondhardloop! Die Medivet-personeel het hom gekontroleerd laat loop met hulpmiddels en het gesorg dat hy die nodige rus inkry.
Op 15 April is Kiko ontslaan. Hy en sy eienaar was in die wolke! Kiko loop al baie mooi en is van alle pyn medikasie af. Hy moet nog stilgehou word in ‘n klein kampie en sy eienaar het mooi geleer hoe om sy fisioterapie toe te pas.
Hopelik sal hy binnekort weer in die bos kan rondhardloop saam met sy eienaar.
Baie dankie Medivet Dierekliniek!
