Headlines

Medivet hou spesiale gedenkdiens

15 May 2020 · Platinum Bushvelder

Medivet hou spesiale gedenkdiens

Thabazimbi – Medivet Dierekliniek het op Sondag 10 Mei 'n unieke gedenkdiens van hul eie gehou. Medivet dokter Jamiela Barnard en personeel het hulde gebring aan al die diere wat oorlede is vanaf Januarie 2020.

Elke keer as ‘n troeteldier uitgesit moes word, is ‘n kersie aangesteek sodat almal in die wagarea weet iemand is besig om totsiens te sê aan ‘n troeteldier. Daar is ook twee ink-afdrukke geneem van die troeteldier se poot. Die eienaar ontvang dan so 'n afdruk met ‘n mooi boodskappie op, terwyl die ander afdruk met die troeteldier se naam by, op Medivet se muur van herinnering geplaas word.

Tydens die gedenkdiens het die personeel deur die name gegaan en stories gedeel wat hulle van die troeteldier en eienaar kon onthou en het saam ‘n traantjie gepik. Daarna is al die name begrawe. Meeste van die diere het ons verlaat as gevolg van ouderdom, ongeneesbare siektes of onvoorsiene ongelukke soos slangpikke en motorongelukke.

Medivet Dierekliniek wil in dieselfde asem hul kliënte en familie bedank dat hulle so mooi na hul diere kyk.
 

Elke keer as iemand ‘n troeteldier aan ‘n genadedood moet afstaan, word daar ‘n kersie in die wagarea aangesteek.
Die name en ink-afdruk word op Medivet se muur van herinnering geplaas.