Headlines

HFM Graad 12s terug by die skool

11 June 2020 · Platinum Bushvelder

HFM Graad 12s terug by die skool

Thabazimbi – Die onderwysers van Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) was vreeslik opgewonde om die Graad 12 groep terug te verwelkom. Hulle was op Maandag 8 Junie al van 06:00 af reg om hulle welkom te heet.

Dit was ‘n baie koue oggend maar na 70 dae van grendeltyd, was almal baie entoesiasties om terug te wees by die skool. Te danke aan almal se samewerking het die skandering en sifting baie goed afgeloop en dit was duidelik dat almal gou tuis gevoel het. Die kolwyntjies wat HFM onderwyseres Martie Boshoff uitgedeel het, het natuurlik ook hiermee gehelp!

Pouse was eers vreemd met die sosiale distansiëring maar die leerders het mooi saamgewerk. HFM onderwyser Tiaan Schmidt het ‘n rooster uitgewerk wat toesien dat leerders opgedeel word sodat daar minder kinders in elke klas is, wat dit makliker maak om distansiëring te handhaaf.

Al die personeel van HFM werk hard om van die onbekende situasie 'n sukses te maak. Die moeite en passie vir hul leerders is duidelik sigbaar in hul lojale diens.  

“Ons hoop en vertrou dat ons COVID-19 as ‘n eenheid sal oorwin,” het HFM skoolhoof Collin Campbell gesê.

Leerders het ‘n veilige afstand tussen mekaar gehou terwyl hulle gewag het om geskandeer te word.  
HFM onderwyseres Martie Boshoff het kolwyntjies gebak om die leerders terug te verwelkom.
Leerders is in kleiner groepe opverdeel om sosiale distansiëring beter te handhaaf.