Headlines

Dr Bertie Joubert lewer kommentaar

4 August 2017 · Platinum Bushvelder

Dr Bertie Joubert lewer kommentaar

Dit is vir my eienaardig dat Eskom op hierdie stadium die ekstreme voorstelle van kragbeperkings in Thabazimbi aankondig. 

Dít nadat die vorige ANC beheerde raad direk veroorsaak het dat die rekening astronomies hoog opgeloop het en die geld waarmee Eskom betaal moes word, deur sekere kriminele bestuurders verduister is.

In hierdie tyd het ruggraatlose ANC-raadslede ook sekere gemeenskappe ondersteun om nie vir dienste soos water en elektrisiteit te betaal nie en in sekere gevalle het selfs plaaslike bestuursamptenare onwettige koppeling ten opsigte van water en krag gedoen.

Die nuwe raad van die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit, wat sedert 3 Augustus 2016 verkies is, het onmiddellik met ernstige en gefokusde planne begin om belastinginvordering te bevorder en om betalings te verseker vir dienste wat gelewer is. Net één van die projekte is die vooruitbetaalde kragmeters wat in die hele Thabazimbi en Rooiberg geïnstalleer moet word.

Hierdie projek neem baie lank om te implementeer aangesien daar steeds onverantwoordelike ANC-raadslede en gemeenskapslede is wat sodanige projek, wat uiteindelik vir almal tot voordeel sal strek, te kortwiek.

Die feit dat Eskom hierdie raad nie eerder ondersteun om die vooruitbetaalde meterprojek af te handel nie en ook erkenning te gee aan die volwaardige gemeenskapspogings om dienslewering in die dorp te herstel nie, is kommerwekkend.

Dit is tog duidelik dat die raad sedert Augustus 2016 alles in hulle vermoë doen om die enorme korrupsie van die vorige ANC-raad en sy amptenare hok te slaan, waarvan ‘n betaling van R38 miljoen aan Eskom sedert verlede jaar Desember van self spreek.

Tydens die ANC bewind in Thabazimbi het die munisipaliteit nou en dan ‘n onvanpaste betaling aan Eskom gemaak en dan is die dorp weer vrygespreek deur Eskom. Ek kan nie anders redeneer as om myself wys te maak dat Eskom ook maar net nóg een ANC-kaderinstansie is wat nie ‘n dorp soos Thabazimbi gesonde, oop, skoon regering gun nie.

Daarbenewens hef Eskom die dorp tussen R2,6 miljoen en R3 miljoen rente per maand, wat ‘n realistiese terugbetalingsplan ook totaal onwerkbaar maak. Hierdie stap deur Eskom gaan gepaard met die poging van die provinsiale wetgewer om Artikel 139 van die Grondwet weer in te stel en ‘n mens kan nie dié twee van mekaar skei nie.

Die invorderingsyfer van die munisipaliteit is nou 80% waar dit voorheen slegs 56% was. Verder is die munisipaliteit in die proses om ‘n bevoegdheidsoudit op werknemers te doen, ten einde die organogram vaartbelyn te maak en die regte werknemers in die regte posisies te plaas. Die Spesiale Ondersoekeenheid is tans besig met ‘n intensiewe ondersoek om kriminele wat miljoene rande gesteel het te identifiseer en te vervolg.

 In Februarie en Maart 2017 het nasionale tesourie R50 miljoen na die oorname belowe, waarvan nog net R25 miljoen oorbetaal is. ‘n Jaar terug was die oorspronklike totale skuld nagenoeg R400 miljoen, waarvan nagenoeg R80 miljoen reeds terugbetaal is.

Intussen is noodsaaklike dienslewering gestabiliseer en enige negatiewe politieke drywing deur Eskom en die provinsiale regering is ‘n duidelike en doelbewuste poging om die vordering en stabiliteit, wat reeds gemaak is, te kortwiek.

DA koukusleier Dr Bertie Joubert – Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit

Kommentaar op Eskom se kennisgewing van kragbeperkings in Thabazimbi, 3 Augustus 2017