Die Smith-familie sê dankie

Thabazimbi – Die vyf-jarige Rachael Smith van Thabazimbi het op Donderdag 13 Augustus sonder waarskuwing in ‘n semi-koma verval.
Sy was die oggend kleuterskool toe en het die middag nog lekker saam haar pappa trampolien gespring. Daarna het sy saam met haar mamma op die bed gelê en ‘n rukkie later het haar ouers opgemerk dat sy bewusteloos is. Hulle het dadelik met haar na Mediclinic Thabazimbi gejaag.
Klein Rachael het die nodige bloed en urinetoetse ondergaan om ‘n diagnose te bevestig maar alle toetse wat gedoen is, was negatief. Rachael moes toe na Brits Mediclinic geneem word vir ‘n CT-skandering.
Ongelukkig het die hospitaalplan waarop die Smiths was nie die skandering gedek nie. Die bedrag wat vir die hospitaal gedek word is baie klein en sou ook nie veel langer die intensief dek nie.
‘n Noodkreet het deur Thabazimbi gebrand om te help geld insamel vir Rachael. Oproepe sover as Duitsland het ingekom en almal het vinnig sente omgedraai en geld inbetaal. Na al die toetse, skandering en ‘n lumbale punksie kon hul bevestig dat Rachael ‘n infeksie op haar brein het.
Sy is dadelik op antibiotika gesit en het vinnig teruggekeer na haar vriendelike normale self.
Rachael se ouers Nadia en Kevin Smith wil graag die gemeenskap bedank vir die bydrae, groot en klein, vir elke oproep en gebed. Thabazimbi se hart is baie groot en dit het net weer bewys dat God se genade groot is en dat goeie mense reg rondom jou staan.
