Lily se verhaal...

Lilith (Lily) Stewart het op Donderdag 1 Oktober ingegaan vir ventrikulêre septale defek sluiting en is tragies die volgende dag oorlede. Na aanleiding van haar dood wil haar ma Natasha Stewart graag hulle storie met ander ouers deel, met die hoop dat hul uit die Stewart’s se ervaring kan leer.
[Skrywe aan die redakteur]
Thabazimbi – Albei my kinders was nog altyd baie aktiewe gesonde dogtertjies. My oudste is nou vyf en behalwe vir waterpokkies en die jaarlikse verkoue, was sy nog nooit regtig siek nie.
My jongste, Lily, was ‘n jaar en agt maande oud. Sy het op drie maande erg long infeksie gehad en direk daarna waterpokkies... maar verder het sy geen simptome gewys van enige onderliggende siektes nie. As gevolg hiervan was dit nooit regtig vir my nodig om dokter toe te gaan met hulle nie. Lily is egter gebore met wat ons gedink het is ‘n ‘hoenderborsie’. Ek het al navraag daaroor gedoen en almal het my verseker dat dit niks ernstig is nie.
Ongeveer drie weke voor Lily oorlede is, het my baas by die kleuterskool waar ek werk Lily se doek omgeruil toe sy die knop op Lily se bors sien. Sy was dadelik bekommerd omdat dit nie vir haar reg gelyk het nie. Na aanleiding van haar advies het ons ‘n afspraak by die dokter skeduleer, Lily was glad nie sieklik nie maar ons het ingestem om haar gerus te stel.
Die dokter het 'n roetine ondersoek gedoen. Hy het bevestig dat die knop wel ‘n hoenderborsie is, maar dat dit nie ‘n probleem is nie. Hy was egter bekommerd omdat dit klink of Lily se hartklep nie mooi toemaak as haar hart klop nie en het ons na ‘n pediater verwys.
Na die afspraak het my baas dadelik aan die werk gespring om te kyk waar ons 'n afspraak kon kry wat nie te veel sou kos nie – omdat nie ek of die kinders ‘n medies het nie en als uit my eie sak moes betaal. Sy het op die ou einde besluit om eerder reguit met ‘n pediatriese kardioloog kontak te maak omdat dit met my kleinding se hart te doen gehad het. Ons het ‘n afspraak gekry op 23 September by ‘n spesialis in Pretoria.
Die pediatriese kardioloog was baie deeglik met haar ondersoek en het vir amper twee ure na klein Lily se hartjie gekyk met ‘n sonar.
Na die ondersoek het die dokter ons in kennis gestel dat my dogtertjie eintlik vreeslik siek is, dat haar hart redelik vergroot is – en dat dit die rede is dat haar borsie so uitstaan soos ʼn hoenderborsie. Sy het vier gaatjies in haar hartjie gehad, een bo en drie gaatjies onder [redelik naby aan mekaar] wat beteken daar het te veel bloed te vinnig in haar longe in gepomp. So haar longe het te veel bloed in te 'n kort tyd gekry, en dat daar moontlik 'n “venster” gevorm het tussen die twee hart pypies wat na haar longe toe loop, daarom moes haar hartjie ekstra hard werk en daarom was haar hart klop baie vinniger as normaal.
Sy het ook gesê dat as die probleem voor agt maande opgetel was, hulle ‘n operasie kon doen, maar dat sy moontlik nie meer ‘n kandidaat was daarvoor nie as gevolg van haar ouderdom.
Op 1 Oktober is Lily toe in vir haar operasie, die operasie het goed verloop maar sy is na die tyd oorgeplaas na die intensiewe eenheid want haar temperatuur was hoog en haar hartjie het baie vinnig geklop as gevolg van ‘n allergiese reaksie van die narkose. Sy is in die vroeë oggend ure van 2 Oktober oorlede.
Ek voel dit is belangrik om ons storie met ander ouers te deel sodat hulle kan verstaan hoe belangrik dit is dat jou kind gereeld gaan vir ‘n dokters ondersoek – selfs al is hul gesond. Ons wil ook graag dankie sê vir almal se ondersteuning en gebede gedurende die moeilike tyd.
Natasha Stewart
