Headlines

Elné sterk aan na slangpik

22 January 2021 · Platinum Bushvelder

Elné sterk aan na slangpik

Thabazimbi – Die Erasmus-gesin se lewens is tot stilstand geruk na hul dogter Elné Erasmus deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik is op Maandag 11 Januarie.


Elné, wat saam met haar ouers op ‘n plaas woon buite Thabazimbi, was in haar kas besig toe die slang uit die bloute uit haar aan die arm byt. Haar pa het dadelik met haar na Thabazimbi Mediclinic gejaag, terwyl haar broer, wat werksaam is in die dorp weer uit is na die plaas om te bevestig watse slang dit is wat haar gepik het.
Sy het die nodige noodbehandeling ontvang by Thabazimbi Mediclinic waarna sy oorgeplaas is na Steve Biko Hospitaal te Pretoria

.
“Dit is maar moeilik omdat ons haar nie kan sien nie, maar Elné word elke dag sterker. Daar is egter nog ‘n baie lang pad voor sy heeltemal kan herstel,” aldus haar broer Wynand Erasmus in ‘n onderhoud met Platinum Bushvelder.


Sy is op 19 Januarie vir die eerste keer geopereer en van hier af sal sy elke 48 uur ‘n operasie ondergaan om die dooie weefsel te verwyder. Sodra die dokter tevrede is dat al die dooie weefsel verwyder is, sal hulle met die veloorplanting kan begin. “Elné gaan vir ten minste nog vier weke in die hospitaal moet wees,” het Wynand gesê.
Al die kostes vir Elné se pad na herstel word tans deur haar ouers betaal. Eg aan Thabazimbi het die gemeenskap reeds ingespring om fondse in te samel maar daar lê nog ‘n duur pad vorentoe. Die gesin wil graag almal bedank wat sover bygedra het asook dankie sê vir elke gebed en boodskap wat hul ontvang het.


Indien jy ‘n bydrae wil maak tot Elné se mediese onkostes, skakel Wynand op 079 523 5026. 

Elné Erasmus sterk tans aan in Steve Biko hospitaal na sy deur ‘n slang gepik is.