Kom draai jou geskenke toe!

Thabazimbi – Dis weer dáárdie tyd van die jaar! Mense regoor die wêreld koop geskenkies vir hul geliefdes en trek dit oor met die grootste liefde.... maar menige mense het nie altyd ‘n kansie om hul geskenke sorgvuldig toe te draai nie.
Huis Immergroen in Thabazimbi draai elke jaar geskenke toe by Shoprite Thabazimbi. Wanneer jy jou inkopies doen, kan jy sommer ‘n draai maak by hul tafel en in ‘n japtrap is jou geskenkie opgetooi – reg om verslind te word op Oukersaand.
Huis Immergroen loods hierdie projek ten einde fondse in te samel vir die bejaardes wat hulle huisves om óók ‘n lekker Kersfees saam te vier.
Wanneer jy jou geskenkie bring om toe te draai, gee gerus ‘n donasie aan hierdie groep mense wat hierdie onbaatsugtige taak verrig.
Hulle sal daagliks tot Kersdag by hul tafel doenig wees – kom loer graag in!
In ‘n onderhoud met die Platinum Bushvelder koerant sê Marie Steenekamp, koördineerder van hierdie projek: “Baie dankie aan ons hele gemeenskap, binne en buite Thabazimbi, vir julle ondersteuning! Dis wonderlik om deel van so ‘n meelewende gemeenskap te wees. Graag doen ek weer ‘n beroep op ieder en elkeen om ons te ondersteun hierdie jaar. Vir ons is elke sent kosbaar.”
Marie Steenekamp sê ook in besonder dankie aan Shoprite wat hulle oor die jare ondersteun. “Baie dankie vir die materiaal, ondersteuning en bystand”.
