Headlines

‘n Soet byeenkoms

3 March 2023 · Platinum Bushvelder

‘n Soet byeenkoms

Thabazimbi – Melktert—‘n egte Suid-Afrikaanse nagereg—is meer as net ‘n kulturele erfenis; nie net alleenlik is dit is ‘n lekker en gewilde bederf nie, maar dit skep ook soet geleenthede waar mense bymekaarkom.

Dié nagereg—of stoute bederf—is so lekker dat daar selfs ‘n jaarlikse nasionale Melktertdag gevier word! Die Ysterberg Voortrekkers het besluit om hul Melktertdag saam met die Bosveld Oord Ouetehuis te vier op Maandag 27 Februarie.

Die jongspan het self die melkterte gebak en dit toe ook gedeel het met die inwoners van die Bosveld Oord Ouetehuis. Dié tradisionele tert bestaan uit ‘n soet deegkors, gevul met romerige vlamelk, meel, suiker en eiers—en word met kaneel bestrooi nadat dit gebak is.

Die Ysterberg Voortrekkers het gebak en gebrou om seker te maak dat daar genoeg melktert vir almal was wat die dag saam gevier het—insluitend die ere besoeker Tokkie Swanepoel.

Daar het selfs ‘n paar interessante variante van die tert navore gekom—veral toe lede pannekoeke met melktert gevul het!


Een van die melkterte was egter spesiaal gebak vir Bosveld Oord inwoner tannie Hazel Lusse wat ook haar verjaarsdag gevier het op die spesiale dag. Die uitreik het ook baie na aan die hart gelê vir Bosveld Oord inwoner Sofie Maritz, wat ook ‘n Voortrekker was in haar jeug.

Die Ysterberg Voortrekkers kom elke Woensdag 17:00 by SmartBrain gronde bymekaar, en die gebruik van die perseel is te danke aan SmartBrain hoof Nico du Plooy.

Dominee Tinus Benade stel ook tydelik die NG Kerk Thabazimbi saal beskikbaar vir byeenkomste, maar die Voortrekkers is opsoek na ‘n perseel wat skuiling sal bied teen die reën en vanjaar se komende koue.


Indien jy ‘n perseel het wat beskikbaar is, of wil aansluit by die Ysterberg Voortrekkers, kontak Danie Naudé op 082 783 6737, of Karin Naudé op 083 996 3237 vir meer inligting.

Van links: Ysterberg adjunk-veldkornet vir jeugsake Ronelle du Plessis, Ysterberg adjunk-veldkornet Nelia Pieterse, Ysterberg raadslid Yolandi Viljoen, Ysterberg raadslid Eksteen Pieterse (met baba), Ysterberg lede Conrad Resen en Ettiene Pieterse, Ysterberg veldkornet Danie Naude, Tokkie Swanepoel, bejaarde Hazel Lusse (voor Tokkie) en Ysterberg veldkornet finansies administrateur Karin Naude.

#FosteringASenseOfCommunity