Wat ‘n Waatlemoenfees!

Thabazimbi – Die Thabazimbi gemeenskap het onlangs ‘n bedrywige dag van pret en plesier by die Ysterberg Voortrekkers se jaarlikse Waatlemoenfees geniet. Die fees, ‘n hoogtepunt op die Thabazimbi-sosiale kalender, is op Donderdag 25 Januarie 2024 by die Smart Brain rugbyveld gehou. Met ‘n middag wat om 16:00 afskop, was dit die perfekte tyd vir ‘n fees vol vrolikheid en gesinspret. Die Ysterberg Voortrekkers, bekend vir hul dinamiese gemeenskapsbetrokkenheid, het die geleentheid gebruik om beide oud- en nuwe Voortrekkers te verwelkom. Die feesgangers is vermaak met ‘n oorvloed van aktiwiteite, insluitend ‘n opwindende waterglybaan wat veral by die jonges groot opwinding veroorsaak het. Maar dit was nie net die waterglybaan wat aandag getrek het nie. Waatlemoene, die tema van die fees, was volop en het vir heerlike verfrissing gesorg. Karin Naudé, veldkornet vir finansies en verkenner offisier by die Ysterberg Voortrekkers, het haar dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het: “Ons bedank ons borge vir die waatlemoene, waterglybaan, en perseel, en vir al die ander lekker dinge! Ons bedank ook ons offisiere en heemraadslede vir hul bereidwilligheid om te kom help, en ouers wat hul kinders gebring het. Sonder die kinders kon daar nie ‘n fees gewees het nie!”
Nelia Pieterse, ‘n Ysterberg Voortrekkers offisier en in beheer van bemarking, het bygevoeg: “Die kinders se vreugde en gelag in die water, veral met die waatlemoene as middelpunt, het hierdie geleentheid ‘n onvergeetlike en uiters genotvolle ervaring vir almal gemaak!”
Vir meer inligting oor die Ysterberg Voortrekkers en toekomstige geleenthede, kan belangstellendes Danie Naude by 082 738 6737 kontak.
