Headlines

‘n Brug weggevee, ‘n gesin geskei

5 March 2025 · Platinum Bushvelder

‘n Brug weggevee, ‘n gesin geskei

Rooiberg – Die Rossouw-gesin woon op ‘n wildsplaas net buite Rooiberg, waar hulle kinders daagliks ‘n lang pad moet aflê om by Laerskool Koedoeskop te kom. Wat gewoonlik ‘n roetine was, het in ‘n nagmerrie verander toe onvoorspelbare vloede hulle afgesny het van die buitewêreld – en van hul kinders.

Water, vrees en hoop: ‘n Gesin se stryd met die vloed 
Op Dinsdag 11 Februarie 2025 het swaar reën ‘n brug by die plaas se ingang weggespoel. Die gesin het probeer om ‘n alternatiewe roete deur die rivier te gebruik, maar die water was te sterk. Daardie dag kon die kinders nie skool toe gaan nie, en plaaswerkers moes ‘n uitmergelende twee en ‘n half uur lange pad om die plaas gebruik om daar te kom. Die gesin het met gruis en klip probeer om die driffie bruikbaar te maak, en die werkers het die middag huis toe gegaan. Maar die volgende dag het die rivier weer gestyg.

Die kinders moes toe per TLB deur die rivier geneem word om by ‘n bakkie uit te kom wat hulle na Rooiberg kon neem. So het die kinders en werkers vir ‘n week lank deur die rivier moes waag net om hul daaglikse lewe voort te sit. 

Die oggend wat in angs verander het 
Op 19 Februarie het die water vlak genoeg gelyk om die kinders skool toe te stuur. Maar skaars ‘n halfuur later het hulle ‘n boodskap ontvang: die skoolbus moes omdraai weens die gevaarlike padtoestande. Paniek het toegeslaan. 

Jean Rossouw het haastig gaan kyk of die rivier nog deurkruisbaar was en besef dat hulle kinders vasgekeer was – en daar was geen manier om hulle huis toe te bring nie. 

Die werklikheid het ingesink: hulle seuns, Krestel (9) en Thinus (10), moes noodgedwonge in Rooiberg oornag, ver van hul ouers af, met slegs hul skoolklere en tasse. Vir die eerste keer het hulle regtig die impak van die vloed besef – en die vrees dat hulle nie binnekort hul kinders sou sien nie, het swaar op die ouers se harte gedruk.

Die gemeenskap tree in 
Die Rossouws het na oplossings gesoek. ‘n Ander ouer het aangebied om die kinders oor te huisves, maar die onsekerheid oor veiligheid in Rooiberg – veral met berigte dat ‘n damwal onder druk was – het hulle angs laat toeneem. 

Krestel Rossouw het desperaat begin rondbel vir moontlike helikopterhulp. Dit was toe dat Kahn De Jager, wat met ontruimingsaksies by Amandelbult besig was, beloof het om ‘n woord uit te sit.
Die volgende oggend, 20 Februarie, het hulle die oproep ontvang: “Maak die kinders reg, hulp is op pad.” Meneer Gert Ehlers het ingespring, die seuns en noodsaaklikhede op Rooiberg opgetel en hulle huis toe gebring. Die oomblik toe hul ouers hulle in die arms kon vashou, was onbeskryflik.

Dankbaarheid te midde van die swaarkry 
Vandag is die gesin steeds afgesny van die buitewêreld, maar hulle is rustig. Hul kinders is veilig tuis. Hulle is dankbaar vir die hulp en ondersteuning van hul gemeenskap, en vir die reën wat, ten spyte van die ontwrigting en skade, ‘n seën is vir die land.

Ons sal dit nooit vergeet nie
“Met ons hele hart dank ons die Here vir soveel goeie mense. Die manier waarop hierdie gemeenskap ons ondersteun het, is ‘n bewys van liefde en samehorigheid. Ons kinders is ons kosbaarste skat – en hierdie gebeure het ons net weer laat besef hoe broos en kosbaar die lewe is. Hierdie ervaring sal ons vir altyd bybly,” aldus Krestel.

Krestel Rossouw, Jean Rossouw, Thinus Rossouw en Thysie Rossouw – ‘n gesin herenig ná ‘n week van vrees en onsekerheid.