HFM wen 61ste Bosveld Interhoër

Thabazimbi – Soms gebeur daar iets so besonders, so vol gees en deursettingsvermoë, dat dit ‘n hele gemeenskap se hart laat warmer klop. En dít is presies wat gebeur het toe Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) op Donderdag, 27 Februarie 2025, as die trotse wenners van die 61ste Bosveld Interhoër gekroon is!
‘Ek is so trots op almal!’ – Met vonkelende oë en ‘n hart vol dankbaarheid het Collin Campbell, skoolhoof van HFM, sy opgewondenheid gedeel. “Baie dankie aan ALMAL wat hierdie dag ‘n reusagtige sukses gemaak het!” Die dag was ‘n viering van harde werk, samewerking en onbreekbare spanbou.
Die openingseremonie, aangebied deur ds. Joggie Kotzé, het gesorg vir ‘n inspirerende begin, en van daar af was dit pure toewyding, energie en passie. Van die atlete wat hul drome met elke tree nagejaag het, tot die dirigente en sangspan wat die skool se gees met elke noot laat opvlam het – dit was ‘n fees van pure oorgawe.
HFM het met trots gasheer gespeel vir vanjaar se Bosveld Interhoër, waar nege puik skole teen mekaar meegeding het: Hoërskool Frikkie Meyer, Hoërskool Ellisras, Hoërskool Nylstroom, Hoërskool Ben Viljoen, Hoërskool Piet Potgieter, Hoërskool Hans Strijdom, en Hoërskool Warmbad.
Hierdie oorwinning sou nie moontlik gewees het sonder die toewyding van ons hoof, onderwysers, afrigters, sangspan, dirigente, atlete, werkers, ouers, borge, en gemeenskap nie. Die samewerking, die ure van harde werk agter die skerms, die besighede wat ‘n hand uitgereik het – elkeen het ‘n onuitwisbare rol gespeel in hierdie ongelooflike suksesverhaal.
