Headlines

Medaljes in Potch

25 August 2017 · Platinum Bushvelder

Medaljes in Potch

Thabazimbi/ Potchefstroom – Die Noordwes Provinsiale Boogskiet kompetisie het die afgelope naweek van 19 Augustus in Potchefstroom plaasgevind. Die koue weer en wind was nie genoeg om die Thabazimbi boogskiet deelnemers se entoesiasme te blus nie.

Die 16 skuts van Thabazimbi Boogklub het gespook in ysige weer teen die son en wind om mooi tellings te behaal. Provinsiale tellings is geskiet deur die volgende skuts (hoogste telling uit 560 verskyn langs die naam). De Wet Viljoen (482), Selkirk von Wiellich (484), Carmen Strydom (451) en Chiara Iorio (478).

Nasionale kwalifiserende tellings is behaal deur: Ameij Broekhuizen (521), Maya Broekhuizen (544), Juan de Koker (516), Bianca Kleynhans (484), Cobus Marais (515) en Xander van de Groenekan (517).  

Kom kyk of jy die hart en/of long op die krokodil kan raakskiet… 26 en 27 Augustus 2017 om 19h00! 

Die Thabazimbi Boogklub neem agt medaljes huistoe o.a. Chiara Iorio (goud), Carmen Strydom (silwer), Bianca Kleynhans (silwer), Ameij Broekhuizen (goud), Maya Broekhuizen (goud), Juan de Koker (silwer), De Wet Viljoen (brons) en Rion van Aardt (brons). 

Hoërskool Frikkie Meyer het goedgunstiglik vervoer verskaf aan die boogskuts. ‘n Groot dankie aan Abrie en Jolanda Nel (Optimum Voere) en Lusette von Wiellich (HFM) wat saam met Bianca Kleynhans (HFM) die kinders vergesel het.

Kom deel in die opwinding van  ons 22- teiken 3-D  baan. Dit is ‘n groot geleentheid vir menige jagters en 3D-skuts. Kom bekruip die hiëna, die krokodil of die blouwildebees. Thaba Lesodi borg ook  ‘n jagtog (rooibok, blouwildebees en vlakvark) as prys. 

Inskrywings geskied te http://sanaa.org.za/ifaa  of  by Thaba Boog en Hengel. Kostes vir volwassene en juniors beloop R280 vir 2 dae en skuts (cubs) o/13 beloop R230. 

Nie-SANAA lede moet R50 ekstra betaal.  Die kompetisie begin om 08h15 op Saterdag 26 en Sondag 27 Augustus. Toeskouers is welkom en verversings is heeldag beskikbaar!

Thabazimbi maak gereed vir die 2018 wêreldkampioenskappe wat ook by Elgro Lodge in Potchefstroom gaan plaasvind in Oktober 2018. Hou die skuts dop!