Headlines

BEVEILIG JOUSELF!

27 April 2018 · Platinum Bushvelder

BEVEILIG JOUSELF!

Northam – Op Saterdag, 21 April, het die Northam Boerevereniging vir Glenn Mortelmans, ‘n Krav Maga veginstrukteur,  genooi om ‘n gratis bewusmaking- en veiligheidskursus vir die gemeenskap aan te bied.

Glenn is al 17 jaar aktief betrokke by Krav Maga opleiding nadat hy self in Israel, Poolland en Brittanje opleiding ontvang het. Hy word as een van die top instrukteurs ter wêreld beskou.

Glenn is die stigter van Krav Defence Systems en KM-TU (Krav Maga Tactical Unit) en bied selfverdediging- en taktiese opleiding ontwikkel vir boere en die algemene publiek, regoor die land aan.

Krav Maga, ‘kontak bestryding’ in Hebreeus, is taktiese vegtegnieke wat ontwikkel is deur die Israeli weermag en bestaan uit ‘n kombinasie van die gevaarlikste tegnieke geneem uit boks, stoei, aikido, judo, karate en realistiese straatgevegte.

Díe vegtegniek is ontwikkel om effektief te wees teen enige aanvaller. Prof Erasmus, voorsitter van die Northam Boerevereniging het ook tydens die geleentheid namens die Northam gemeenskap ‘n donasie aan die HPG (Heritage Protection Group) oorhandig. HPG monitor alle omliggende gebiede om Northam, 24 uur en 7 dae ‘n week. Hulle monitor baie van die gebiede op eie onkoste. 

Danksy positiewe samewerking tussen HPG, boere en omliggende gemeenskappe, is hulle gereeld die eerste reaksie na ‘n insident. Prof Erasmus het tydens die geleentheid weereens klem gelê op die feit dat ons as die Northam gemeenskap mekaar moet ondersteun: “In enige situasie, van hartaanval tot ‘n plaasaanval, is die reaksie tyd die verskil tussen lewe en dood.”

Johan Young, kommunikasie bevelvoerder vir HPG in die Northam Area, het ook benadruk hoe belangrik die Krav Maga opleiding vir almal is. “Ons sal ook ons wapen opleiding moet opskerp en almal moet radio’s kry sodat daar dadelik gekommunikeer kan word. Soos julle weet het ons ook WhatsApp groepe wat ook baie help.”

Sluit gerus aan by die volgende opleiding kursus op 5 en 6 Mei in Northam teen R1000.00 per persoon. Vir verdere inligting skakel Johan Young by 083-998 2593.

Glenn Mortelmans is al 17 jaar ‘n Krav Maga instrukteur.
Glenn Mortelmans demonstreer basiese hand-tot-hand verdedigingstegnieke met die hulp van ‘n vrywilliger.
Northam Boerevereniging lede het ‘n paar basiese veiligheidsoefeninge gedoen. Die meer intense opleidingskursus sal volgende naweek, 5-6 Mei plaasvind.