Headlines

Volpunte vir Thaba Boogklub!

18 May 2018 · Platinum Bushvelder

Volpunte vir Thaba Boogklub!

Thabazimbi – Die Thabazimbi Boogklub was gasheer vir die Limpopo Suid Field Kampioenskappe op 12-13 Mei. Die baan het bestaan uit 28 teikens waar vier pyle per teiken, met ‘n maksimum van 20 punte per teiken behaal kon word. 


Skuts het opgedaag van sover as New Castle, KwaZulu-Natal, Phalaborwa en Bloemfontein in die Vrystaat.  


Hoogtepunte het uit die jongklomp se geledere gekom. Hendré Verhoef, van die Archers Edge klub te Pretoria, spog met ‘n nuwe Suid Afrikaanse baanrekord vir die CMFU (Cub Male Freestyle Unlimited) kategorie. Hy skiet ‘n 560/560 vol telling! Die vorige rekord was 559/560. 


Verskeie ander skuts het hul persoonlike beste tellings aangeteken: Thabazimbi Boogklub spog! Maya Broekhuizen (CFBU) skiet haar persoonlike beste telling van 550/560.

Dewald Oberholzer (CMBU), Aart Broekhuizen (CMBU), De Wet Viljoen (JMBU), Ameij Broekhuizen (JFFU) en Selkirk von Wielligh (JMBU) skiet nasionale kwalifiserings. Robbie Robbertse (JMFU) en Kruger van Zyl (JMBU), skiet provinsiale kwalifiserings. 


Die seniors staan nie terug nie en goeie prestasies is aan die orde van die dag, hetsy persoonlike bestes of nasionale kwalifiserings. 


Die fokus van boogskuts wêreldwyd is die opkomende Field Wêreldkampioenskappe in Potchefstroom van 7-13 Oktober 2018. Jy moet nasionale kwalifiserende tellings aanteken oor ‘n jaar tydperk. 

Skietpunte is strategies uitgelê om vaardighede van elke skut te toets.
Die stellasie skiet het vir groot pret gesorg! Die jongklomp het gevra om ook van die hoogte af te skiet... Naby skiet is nie altyd so maklik soos dit lyk nie!
Hendré Verhoef (van Archers Edge klub te Pretoria) ontvang sy goue medalje van sy pa, Henk Verhoef, terwyl Thabazimbi Boogklub toekyk. Sy 560/560 is die nuwe Suid Afrikaanse rekord vir die CMFU (Cub Male Freestyle Unlimited) afdeling.