‘n Proeseltjie dryf die koue weg

Thabazimbi – Klein Gim het hul 23ste wynveiling, hul eerste in die bosveld, van stapel gestuur op Donderdagaand 7 Junie.
Díe spesiale geleentheid is deur Hoërskool Frikkie Meyer (HFM) behartig in samewerking met Laerskool Paarl Gimnasium.
Klein Gim het nie teruggehou nie, en het sowat 40 prys lotte geskenk. Dit het behels: hoë gehalte wyne, vonkelwyn, brandewyn en so meer.
HFM het ook beïndruk met sprinkbokvel kussings, ‘n spa behandeling, wildskarkasse, twee rugby truie van HFM-oud leering Benhard Janse van Rensburg (wat tans vir die Vrystaat speel), en ‘n kusvakansie as lotte vir die geleentheid.
HFM het selfs met ‘n Mooiuitsig brandewyn te vorendag gekom, wat geteken is deur Springbok Balie Swart.
By die geleentheid is die gaste bederf met ‘n wynproe sessie waarnaas hul eersteklas wyne die koue verdryf het.
Die welbekende Mari Bosman het die gaste vermaak met haar heuningstem en bekwame afslaer Nico van der Westhuizen het homself puik van sy taak gekwyt.
Die veiling van die aand was ‘n reuse sukses! Die bieërs se entoesiasme was aansteeklik en die fondsinsameling was vanuit die staanspoor gekenmerk deur ‘n goeie gees.
Die hoogste bod van die aand was toegeslaan deur Marius Coetzee op ‘n bottel KWV Cruxland Gin vir R6000.
Ninette de Aguiar, organiseerder van die geleentheid en skakel tussen die twee skole, het aan die Platinum Bushvelder vertel: “Ons raak betrokke omdat ons omgee vir ons kinders, ons skole en ons gemeenskap. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om almal te bedank vir ‘n pragtige aand, in besonder al die borge!”
Volgens Adéle Grobbelaar, ontwikkelingsbestuurder van Laerskool Paarl Gim, was die geleentheid ‘n uiterse geslaagde funksie en ‘n onvergeetlike Bosveldervaring vir die Bolanders wat dit bygewoon het. Sy sê: “Ons het reeds begin praat oor volgende jaar se veiling!”
