WAT VOER ONS DIE BRAKKIES?

Thabazimbi – Vir ons diereliefhebbers is dit vanselfsprekend dat ons ons eie vierpotige kinders wil bederf met ‘n lekkerny, veral in die koue winter wanneer ons vir onsself sommer ‘n tweede opskeppie opdis vir die wis en die onwis.
Die vraag, wat is gesond om vir ons brakke te voer, is ‘n belangrike een. Só sê Jo-Mari Kotze, suster by Medivet Animal Clinic. “Meeste honde is sommer vraatsug en sal heel waarskynlik ‘n skaaptjoppie beentjie sommer in twee of drie happe insluk, selfs heel insluk.
Díe beentjie kan dan vashaak in hul slukderm of maag, en kan noodlottig wees. Ons opereer gereeld op honde wat ‘n skaaptjoppie opegevreet het.”
Hoender beentjies is nóg gevaarliker! “Hoenderbeentjies splinter en dan steek of sny hulle die derms. Dit kan ook vassteek in die keel,” aldus Jo-Mari.
“Wanneer jou hond sukkel met ‘n been wat iewers vassteek, moet liefs nie probeer om dit self uit te haal nie. Hou eerder jou brak rustig en bring hom terstond na ons kliniek. Dit is ‘n noodgeval!” sê Jo-Mari.
Gelukkig is daar gesonde en bekostigbare, tuisgemaakte bederf-kossies wat jy vir jou diere kan gee. “Jy kan jou eie lekker sous maak om oor jou honde se pille te gooi. Meng ‘n bietjie grondboontjiebotter, ‘n bietjie meel, egte botter, water en ‘n eier. Maak dit warm en siedaar!”
Vir meer informasie, skakel die Medivet Animal Clinic by 014-777 3323, of by 073-500 4818 na-ure vir noodgevalle.
