Ontbloot met Edrien Erasmus

Thabazimbi – Na meer as 15 jaar in die vermaaklikheidsbedryf, het Edrien Erasmus genoeg moed bymekaar geskraap om haar eie hart as kunstenaar, vrou, mens, sanger en grappie verteller met gehore te deel.
Edrien het grootgeword in Thabazimbi. Daar het sy tussen yster klip en rooigrond vir haarself verhogies en speel-speel teaters gebou. Haar kleintyd drome is aangehits deur twee onderwyseresse, Marie du Toit en die eienares van die KunsteGrot op die dorp en passievolle teater liefhebber, Rita Volschenk.
Van gediggies soos Verdwynskuimroom en Salomo, tot haar eerste rol op die verhoog as die “kat” in Op pad na Bremen, het Rita haar afgerig en help droom!
Edrien glo dat jy jou drome moet nastreef, selfs al voel dit soms of dit nie kan werk nie. Sy onthou tot vandag toe die “Erekode, Laerskool Thabazimbi… as leerling van hierdie skool onderneem ek om dankbaar, eerbaar en eerlik te lewe…” Sy leef vandag nog volgens hierdie waardestelsels!
Edrien is bekend vir haar rolle in verskeie musiekblyspele, onder andere Droomkind, Liefling,
Ons vir jou en Lied van my hart. Haar film ervaring sluit in Vir die Voëls, Kampterein en
vroeër in 2017 het sy die geleentheid gehad om te werk aan die verfilming van Raaiselkind. Sy
was ook al te siene in, onder andere 7de Laan, High Rollers, Donkerland, Bloedbroers, Elke skewe
pot en Sterlopers. Sy vertolk ook tans die rol van Bartha van Rooyen in Lefra se verhoogproduksie
Fiela se kind wat landswyd toer.
Ontbloot is ‘n eenvrou-vertoning wat bestaan uit tientalle oorspronklike liedjies, verskeie oorspronklike komiese stukke asook ‘n kabaretnommer of twee met Edrien Erasmus, klavierbegeleiding deur Chanie Jonker en regie word behartig deur Cobus Venter. Dit is met groot vreugde dat ons aankondig dat Edrien eersdaags terugkeer na haar tuisdorp Thabazimbi en daarna ‘n draai maak in die immer gewilde Persstad.
Kom kyk gerus!
- 8 September 2017 KunsteGrot Thabazimbi @19:30
- 10 September 2017 Pierneef Teater Pretoria @ 19:30
Sien julle daar!
Vir meer inligting kontak Rita Volschenk by 083-744 8559.
