Headlines

Thabazimbi Apiesdoring Karnaval, groot sukses

31 August 2018 · Platinum Bushvelder

Thabazimbi Apiesdoring Karnaval, groot sukses

Thabazimbi – In Limpopo is die Thabazimbi Apiesdoring Karnaval, aangebied deur die Hervormde Kerk, nou bekend as een van die heel grootste jaarlikse feeste. 


Vanjaar se karnaval op Saterdag 4 Augustus, was weereens ‘n reuse sukses met sowat 6,000 besoekers wat die dag saam kom deel het. Selfs 18 vliegtuie met gaste van heinde en verre het die tog meegemaak om die karnaval by te woon.  


Daar is al dikwels onder lidmate gesels oor wat die groot trekpleisters is wat honderde gesinne uit buurdorpe en uit Gauteng baie kilometers laat aflê om die karnaval by te woon. Die feit dat die toegang gratis is, word dikwels as rede gegee. Die top gaskunstenaars wat optree is nog ‘n rede. Vanjaar was dit Theuns Jordaan en Pieter Koen se beurt.

Ander meen weer dis die boere tradisies en lekkernye soos pap en kaiings, pap en wildslewer, stampmielies en afval... die atmosfeer van boeregasvryheid en hartlikheid.  


Nog ‘n opinie is dat die kerk se uitreik na die gemeenskap en behoeftige gemeentes, mense inspireer. So word jaarliks ‘n klomp pleegsorg huise se kinders genooi om gratis by Tarentaalpan kampterrein te bly en by die karnaval saam te kuier, te eet en te speel. Hulle het dit terdeë geniet! 


Isak Joubert, die karnavalvoorsitter, se mening is die sukses lê by die offervaardigheid van die lidmate. Ja, die ekonomie is styf, die stakings volop, die myne trek swaar en die boere trek swaar met wild en produkte se pryse wat laag is. Desondanks, offer lidmate steeds ruim.


“Ons bedank hartlik almal wat die karnaval ondersteun het, ‘n spesiale dank aan die karnaval komitee en ons borge,” sê Izak. 


Die namaak-geluid kompetisie, om ‘n visarend na te maak, is gewen deur Frans Welgemoed. Die kompetisie om ‘n eland se gewig te raai, is gewen deur Tony Tiorio. Sy geskatte gewig was 284.06kg... amper kolskoot! 


Die boekie kompetisie wenners is: 1) Irene Freislich, 2) Alida Broodryk, 3) Juan du Plessis, 4) Thelma du Preez, en 5) Dewald Behrens. 

Sowat 6,000 voete het deur die Hervormde Kerk se hekke gestroom. 
Aitsa! Die geure en reuke in die lug het behoorlik die honger mae laat smul na die tafels, swaar onder heerlike geregte met deernis voorberei.